Agri SA wil onteieningslys van Noord-Kaap herroep

Lees ook :

Foto: Property24

A

Agri SA eis ’n onmiddellike herroeping van die ANC Noord-Kaap se onteieningslys.

Agri SA sal sy lede in die Noord-Kaap verdedig, nes dit in die Melmoth-saak in KwaZulu-Natal gedoen het.

President Cyril Ramaphosa en top amptenare van die ANC het by herhaling die versekering gegee dat produktiewe plase nie vir onteiening sonder vergoeding (OSV) geteiken sal word nie. Agri SA het dit duidelik gestel dat dit enige wysiging van artikel 25 van die Grondwet teenstaan.

“Ons veroordeel die optrede deur die ANC in die Noord-Kaap ten sterkste en sal die saak met erns hanteer,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. “Ons verwag onverantwoordelike stellings in die aanloop tot die verkiesing, maar dié stellings het slegs ten doel om goedkoop politieke punte in te palm.”

Agri SA sal die diplomatieke gemeenskap betrek oor die ANC se ommekeer oor hul verklaarde posisie dat hulle nie produktiewe landbougrond sal teiken nie. Agri SA vergader vandag met die Trump-regering se adjunk-minister van buitelandse sake van die V.S.A., John J. Sullivan en sal OSV en die Noord-Kaapse lys bespreek.

“Agri SA vergader met die regering, die ANC en alle ander organisasies met die verstandhouding dat elkeen die regsprosesse en die oppergesag van die reg sal respekteer,” sê Dan Kriek, Agri SA-president. “Ons beskou die jongste uitspraak van die Noord-Kaapse ANC in stryd met hierdie beginsels. Ons het ‘n beroep op die nasionale leierskap van die ANC gedoen om in te gryp. Ons sal nie huiwer om te litigeer ten einde private eiendomsregte te beskerm nie, wat ons as absoluut krities beskou om broodnodige ekonomiese groei in Suid-Afrika te verseker.”

“Agri SA hoop die ANC in die Noord-Kaap sal tot hul sinne kom en aan die eis wat ons gestel het voldoen. Indien nie, sal Agri SA die regsroete neem.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief