Die DA veroordeel die ANC se aksies by Hoërskool AJ Ferreira in Upington. Volgens die DA het die ANC die geleentheid misbruik om jongmense te werf vir die loods van die ANC se manifes by Robert Gunda-stadion hierdie Saterdag.
Andrew Louw, DA-premierskandidaat van die Noord-Kaap, sê: “Die voorval volg nadat ’n ANC-beampte die toespraak wat oor studiebeurse gehandel het, verdraai het om uit te vis of die studente vir die verkiesing geregistreer het. Die studiebeurs-toespraak het daarna in ’n ANC-bemarkingsplan verander. ”
Onderwyser gryp in en jaag bemarkers weg
“Onderwysers het die bemarkers drie maal onderbreek en hulle daarna gevra om die perseel te verlaat. Terwyl die DA die optrede van die onderwyser aanmoedig, bly dit onaanvaarbaar vir ’n politiese party om ’n besoek aan ’n skool in ‘n veldtog te verander,” verduidelik Louw.
Louw sê: “AJ Ferreira met ‘n 56.8% slaagsyfer in die 2018-matriekeksamens, is een van die provinsie se slegste presterende skole. Alle aandag moet daarop toegespits word om die kwaliteit van onderrig by hierdie skool te verbeter en die skool moenie misbruik word om die ledetal vir ’n politiese party te laat groei nie.”
Voorval by AJ Ferreira is nie die enigste nie
“Dit is nie ’n geïsoleerde voorval nie. Daar was ook gerugte van soortgelyke voorvalle vandag by Hoërskool Paballelo en by die tegniese kollege. Die DA sal enige onreëlmatigehede aan die EIC rapporteer,” sluit Louw af.