Baba gebore in taxi weens geen ambulans

Lees ook :

Die DA in die Noord-Kaap doen ’n dringende beroep op die LUR van gesondheid, Fufe Makatong, om dringende aandag te gee aan die stukkende ambulanse en pasiënte se vervoer.

Luidens ’n verklaring van die DA is daar al hoe meer gevalle waar daar ’n tekort is aan nood- en mediese vervoer.

Geen vervoer

“Vroeër hierdie week het pasiënte wat van Springbok af na Upington toe vervoer moes word, gehoor daar is nie vir hulle vervoer beskikbaar nie,” sê Andrew Louw, DA-premierskandidaat. “Baie van hierdie pasiënte is kanker-lyers en moes gaan vir hulle behandeling,” sê Louw.

Betaal nie vir herstelwerk

Talle voertuie in die Namaqua-distrik is stukkend. En die enkeles wat wel in ’n werkende toestand is, word na bewering by paneelkloppers gehou totdat die departement die uitstaande R 900 vir herstelwerk betaal.

Gee geboorte in taxi

Louw vertel van nog ’n insident waar ’n vrou Sondag in Upington in ’n taxi geboorte gegee het omdat die ambulans na bewering byna drie ure gevat het om gehoor te gee aan haar oproep. “Alhoewel die ma en baba gesond is, is die ma erg getraumatiseerd na haar ervaring,” sê Louw. “Hierdie is daaglikse stories wat vertel word van die provinsie se gesondheidsvervoersisteem.”

Skuld geld

Die hele Dawid Kruiper-munisipaliteit is so groot soos die Gauteng-provinsie met slegs twee werkende ambulanse. Vier ambulanse is gebreek en een was in ’n ongeluk betrokke. Nog twee wag vir onderdele en twee ander ambulanse is geleen vir die dorpe Askham en Groblershoop omdat hulle ambulanse nie gelisensieerd is nie. Louw voer aan dat die lisensies weerhou word omdat die gesondheidsdepartement die staatsgarage ongeveer R30 miljoen skuld.

Tekorte

Louw sê verder: “Behalwe vir die probleem met die gebreekte ambulanse is daar ook ’n tekort aan goeie ambulansdienste.” Hulle het nie net ‘n tekort aan noodpersoneel nie, maar die toerusting en hulpbronne vir reddingswerkers is ook nie voldoende nie. Daar is glo geen handskoene nie, hulle moet sonder veiligheidsbrille en -klere werk. Die meeste ambulanse het nie eers nekstutte vir mense wat in ongelukke betrokke was nie.

Betaal vir lugdiens

Terselfdertyd wil dit voorkom of die gesondheidsdepartement eerder tussen R120 000 en R170 000 sal betaal om pasiënte met privaat lugdienste te vervoer as om hulle eie nooddienste op te gradeer.  

LUR moet ingryp

Die DA verwag dat Makatong so gou as moontlik aandag aan hierdie situasie sal gee, maar hulle het min hoop. “Gesondheidsorg onder haar toesig en leierskap van haar twee ANC-voorgangers het die laagste punt behaal wat die Noord-Kaap nog gesien het,” sê Louw.

Die gebrekkige gesondheidsdepartement, onder toesig van die mislukte ANC-regering, vermoor ons mense en geen nuwe bestuurder, selfs nie president Cyril Ramaphosa, kan die gebreekte ANC-enjin herstel nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App