*** Skuilname is vir hierdie storie gebruik om die betrokke persone te beskerm.***
“My storie het 14 jaar gelede gebeur, maar vandag ervaar ek nog steeds die gevolge daarvan. Ek was 23 jaar oud, ‘n enkelma, wat ‘n partytjie-leefstyl gelewe het. Ek het saam met my niggie gewoon, wat my beste vriendin en partner in crime was. Ek het op ‘n webblad gesien waar jy mense kon ontmoet. Ek het eendag met ‘n persoon begin praat met die naam Mike. Ons het baie in gemeen gehad en elke dag gepraat. Ek het uiteindelik besluit om hom te ontmoet, maar nooit gedink daardie dag sou die ergste dag van my lewe wees nie! My niggie, haar kinders en haar nuwe kêrel het vir die dag uitgegaan en ek was alleen by die huis. Ek het vir Mike oorgenooi.
“Hy het saam met ‘n man met die naam Todd opgedaag. Ek was ‘n bietjie huiwerig omdat Mike nie vir my gesê het dat hy iemand saam met hom sou bring nie. Ek het ‘n bottel drank uitgehaal en ons het almal begin drink. In daardie stadium in my lewe het ek baie gedrink en was gewoond aan die newe-effekte. Ek het in ‘n stadium die badkamer gebruik, maar ek het nie besef dat ek nie die drank alleen moes los nie. Ek was naïef en het vir Mike vertrou. Toe ek terugkom, het ons verder gedrink. Teen daardie tyd was dit omtrent drie drankies. Die mans het uitgegaan om te gaan rook en ek het baie vreemd begin voel. Die wêreld het begin draai toe ek opstaan. Ek het ook uitgegaan om ‘n sigaret te rook en op ‘n stoel gaan sit. Daarna het ek my bewussyn verloor.
“Toe ek wakker word, het ek iemand aan my venster hoor klop. Dit was my niggie wat probeer inkom het, omdat sy nie haar sleutel gehad het nie. Ek het afgekyk en vir Todd bo-op my gesien. Ek was erg verward en het nie geweet wat aangaan nie. My niggie het by my kamer ingebars. Sy wou weet of hy my verkrag het. Ek het kort-kort my bewussyn verloor. Ek het geweet ek sou nooit ingestem om met daardie man te slaap nie. Ek het hom nie geken nie en ek het hom ook nie aantreklik gevind nie. Hy het van my afgespring en by die deur uitgehardloop. Ek het later gehoor Mike het in sy motor gewag terwyl die voorval plaasgevind het.
“Ek onthou ‘n paramedikus het my hospitaal toe vervoer. Ek onthou net stukkies. Dit was soos ‘n droom. Die hospitaal het toetse gedoen en ek het met ‘n verkragtingsberader gepraat. Ek het skuldig gevoel, kwesbaar en soos ‘n slagoffer. Ek was bang en skaam. Ek kon nie ophou huil nie. Die polisie het my klere, komberse, lakens en kussings gevat. Toe ek by die huis kom, was my kamer vol swart vingerafdrukpoeier. Dit het die mat gevlek en my geheue ingekleur. Ek kon nie ophou dink oor wat gebeur het nie. Die aaklige gevoel het dae geduur en die vrees dat hulle sou terugkeer, het konstant in my gedagtes gebly. Ek het ‘n paar weke later uitgetrek.
Die speurder wat my ondervra het, het my laat voel asof alles my skuld was.
“Weke en maande het verbygegaan, todat ek het ‘n oproep van die speurder ontvang wat bevestig het my saak is gesluit omdat hulle nie die mans kon vind nie. My lewe het daarna uitmekaargeval. Ek het terugflitse gekry, hoofpyn, depressie en het ook gewig begin optel. Ek het ‘n baie goeie ou ontmoet wat amper 10 jaar ouer as ek was, maar ek het die verhouding verwoes omdat my innerlike demone onbeheerbaar was.”
Indien jy of iemand wat jy ken deur so ‘n ondervinding was en jou storie wil vertel, stuur ‘n e-pos na tania@find-it.co.za