Sol Plaatjie-munisipaliteit het op Maandag 11 Februarie 2019 ’n kennisgewing uitgereik waarin die munisipaliteit bevestig om erf 2715 en ’n gedeelte van erf 1178 in Dalhamweg in Klisserville aan mnre. NC Millenium Property Developers & Suppliers (Pty) Ltd beskikbaar stel vir die oprigting van studentebehuising.
Ontwikkeling voorspel moeilikheid vir die area
Suzette Rautenbach, ‘n inwoner van Carringtonweg, sê sy kan nie dink dat so ‘n ontwikkeling ‘n positiewe invloed kan hê nie. “As ek sien hoe New Park agteruitgaan en hoe gevaarlik dit is, voorspel hierdie groot moeilikheid! Dit beïnvloed alles in ons area. Die deurloop van duisende studente elke dag, besige strate, rommel en toename van kriminele aktiwiteite omdat daar baie meer mense is. Ons het ons huis gekoop in die area omrede dit ‘n stil omgewing is van die dorp en ook ‘n geskiedkundige area is met vele monumente. Indien ons residensiële woonbuurt nou omskep word in ‘n akkommodasie-area vir studente, verander ons omgewing daadwerklik. Ons is van mening dat daar meer as genoegsame grondgebied is wat nader aan die universiteit geleë is wat vir hierdie doel aangewend kan word – wat ook baie meer voordele inhou vir die studente, aangesien die New Park-area tans ontwikkel word vir sentralisering van studente. Hierdie beginsel word ook in alle ander stede toegepas. Ons area beskik reeds oor die verkeer en toevloei van vier skole. Ons is van mening dat die area nie nog kapasiteit het vir die vloei van studente ook nie. Ons residensiële area se monumente en waarde-toevoeging vir Kimberley behoort bewaar te word deur ons plaaslike munisipaliteit. Hierdie ontwikkeling sal vir seker nie tot voordeel wees vir ons as huiseienaars in die area of die studente nie,” verduidelik Rautenbach.
Rustigheid van die woonbuurt in gedrang
Maggie Boshoff, ook van Carringtonweg, sê: “Ek maak beswaar teen die oorweging van studente-akkommodasie in ons area, want dit gaan die area heeltemal afgradeer, omdat hordes voetgangers, rommelstrooiing, sedelose gedrag, rondlêery op sypaadjies, lawaai, ensovoorts die ‘geskiedkundige waarde’, sowel as die huidige rustigheid en verhoging van die area, groot skade sal berokken. Nog nie gepraat van hoe die waarde van ons pragtige eiendomme geaffekteer sal word nie.”
Inwoners het geen kennisgewing ontvang nie
“Niemand was in kennis gestel nie. Ons bure weet ook nog niks van die beplande ontwikkeling nie. Dit is waarskynlik dat die huidige infrastruktuur nie studentebehuising kan akkommodeer nie. Ons sal Maandag ons besware by die munisipale bestuurder indien,” sê Derrick van Zyl.
Area tasbaar vir dwelmmisbruik
’n Gereelde besoeker aan die trimpark in Milnerstraat het oor die naweek op hordes leë, vermoedelik dwelmsakkies, afgekom en het aan FiND iT gesê: “Die gedeelte van Milnerstraat by die trimpark word gereeld deur dwelmsmouse misbruik. Ek het by verskeie kere gesien hoe ’n silwer Toyota Corolla langs vreemde voertuie stilhou, waarna die twee bestuurders ’n ruiltransaksie aangaan deur die ruite van die voertuie. Hierdie kriminele element kan nie goed wees vir die studente wat hoop om in die area te woon nie. Die dwelmprobleem in New Park het ook vererger met die bou van die universiteit en studentebehuising in daardie area. Wat gaan van die trimpark word wanneer die studente hier naby intrek en deur dwelmsmouse in die versoeking gelei word?”
“Besware, indien enige, teen dié voorstel, moet skriftelik, tesame met die redes daarvoor by die ondergetekende ingedien word om hom te bereik, voor of op Maandag 4 Maart 2019,” verduidelik mnr. Boy Dhluwayo, die waarnemende munisipale bestuurder by Sol Plaatje-munisipaliteit in die kennisgewing oor die beplande ontwikkeling. Besware kan ook per e-pos aan lconradie@solplaatje.org.za gestuur word.