Boeta – Episode 10. Geskryf deur Eric R Kok

Lees ook :

“Ons moet weg kom hier bra…” sê Boeta. 

Leeroy kom slinger slinger aan. Hy kom staan by hulle en sê niks. 

Iemand fluit ewe skielik. Boeta kyk rond. Sy hart begin vinnig klop. 

Die drie figure verskyn en kom vinnig in hulle rigting aangestap. Een het ‘n leë bierbottel in sy hand, die ander een het ‘n halwe baksteen en die derde ‘n skerp voorwerp wat lyk soos ‘n selfgemaakte mes. 

“Aweh. Aweh, die ouens hoe lyk hulle.” sê die dik een met die baksteen in sy hand. 

Die drie kom staan in ‘n half sirkel rondom  Boeta hulle. 

Leeroy wat nog staan en wieg vou sy arms. 

“And then… Wat soek julle?” vra hy. 

“Julle is mos cheese boys. Gee af.” blaf die lang een met die skerp voorwerp. 

“He watte afgee!” Leeroy wieg nie meer nie.

Boeta gee ‘n treë vorentoe en staan tussen die twee wat mekaar met vuur in hulle oë vaskyk. 

“Ho, wag nou eers ouens…” 

“Heh vetsek! Gee daai Zak hieso!” 

Boeta was nie gereed vir die skielike klap wat sy wang aan die brand steek nie. Hy steier agtertoe maar iemand gryp hom aan sy belt en trek hom terug. Leeroy spring agtertoe. Wilson gryp die man met die bierbottel. Hulle begin stoei en val op die grond. 

Angelo probeer keer maar sukkel om op sy been te trap. 

“Heh bra, heh bra…” roep hy en trippel om die twee wat mekaar met vuiste takel. 

‘n vuis skraap Boeta se wang. Hy bal sy vuiste en trek weg met ‘n hele paar houe. Sy aanvaller is totaal onkant gevang en probeer koes. Boeta spring los uit sy greep en skop. Mis. 

Leeroy verskyn weer en het die pistool in sy hand. 

Hy rig dit op een van die aanvallers. 

“HEY.” skreeu hy. Die pistool se bek glinster. 

Die bakleiery stop. 

“Is julle nog sterk ha?” 

Almal kyk na leeroy wat die pistool met albei hande vashou. Hy slinger nog steeds en sy tong sleep. 

Angelo hou op rondspring en balanseer op sy gesonde been. 

Wilson en sy aanvaller staan van die grond af op. Boeta gee ‘n tree terug. Hy is uitasem en sy wang brand. 

Een vir een lig die aanvallers hulle se hande in die lug op om te wys hulle gee oor. 

“Ja. Ek is die boza hierso…” sê Leeroy en slaan met die pistool teen sy bors. 

“Julle moegoes dink julle kan vir my kom bo val…julle gaan tweede kom.” 

BOOM. 

‘n vonk. Skyn skielik soos ‘n vuurwerk wat af gaan. 

Dit klink asof ‘n bom langs Boeta ontplof. Sy ore slaan toe. ‘n skerp brand reuk vul vinnig Sy neusgate. Dus asof alles in slow motion gebeur. Een oomblik staan en pronk Leeroy en die volgende duik die dik man hom om. Die pistool val uit sy hande… Dit val op die grond. 

Wilson spring vorentoe en probeer dit gryp maar die skraal man doen dieselfde en hulle beland altwee op die grond. Boeta gaan om te help maar ewe skielik gryp iemand hom van agter af om sy nek. Dus weer sy aanvaller wat hom begin wurg. Boeta kan nie asem kry nie, sy oë begin traan. Hy probeer terug baklei maar dus moeilik. Sy aanvaller ruk hom woes  rond. Hulle beland op die grond. Boeta soek vir ‘n loskom kans maar Sy aanvaller is te sterk… Hy kyk op en sien Wilson sit op die grond gehurk met sy hande bo sy kop. Die skraal man het die pistool en druk dit teen Wilson se kop. Leeroy lê op die grond hy is vasgepen deur fie dik man wat op sy bors trap. 

Boeta probeer tevergeefs om los te kom. Hy kyk na die lug. Die maan skyn en verdwyn stadig agter ‘n paar dik donker wolke. Hy dink aan sy Ma wat seker weer opsit vanaand en vir hom wag. Sal sy vir hom bel en gaan soek as hy nie huis toe kom nie… Wat van sy Brendan, sal hy verstaan dat Sy Boeta nie meer huis toe kom nie… en Leticia… Hy kan nog haar parfuum ruik en haar sagte vel… Boeta kan nie meer asem haal nie. Sy kop begin pyn.

Die maan is weg. Die lug is donker.  

“Ken jy nog baie…” sê skraal man vir leeroy.

“… Julle vrek almal vanaand!” 

Word Vervolg. 

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App