Wilson is die sterkste een tussen die vier vriende maar selfs hy is magteloos om iets te doen. Boeta sukkel om asem te haal, hy probeer homself weer los ruk.
Sy oë gaan toe. ‘n hond blaf onophoudelik iewers in die straat af en skielik hoor hy ‘n glas breek. Iemand wat in pyn skreeu. Dit klink of ‘n struweling aan die gang is. Weer ‘n geskreeu en die die sterk greep om sy nek verswak.
Boeta maak sy oë oop.
Angelo staan met die pistool in sy hand, sy t-shirt is vol bloed. Angelo… Boeta het van hom vergeet maar sy been is dan seer en tog staan hy nou daar asof die diep sny in sy been nie seer is nie.
“En as ek julle weer sien blaas ek julle almal!!”
Angelo mik met die pistool en die aanvallers hardloop weg. Wilson skop die een wat kruppel kruppel weg draf.
“Vetsek!” skreeu Wilson agterna.
Boeta hou sy keel vas en staan stadig op.
Ewe skielik spring Leeroy op van waar hy nog gelê het.
“Ons gaan meet. Ons gaan meet met die tye, julle moegoes!”
Wilson kom kyk of Boeta orraait is.
“Heh pa is jy okay?”
Boeta knik.
“Wat het gebeur?” vra Boeta en vryf sy nek.
Wilson begin te lag.
Angelo onthou van sy seer been en huppel nader.
“Ons moet maak laat ons wegkom, daai skoot gaan ons piemp by die gattas.”
Boeta en Wilson help vir Angelo sodat hulle vinnig kan wegkom uit die straat wat alreeds stadig vol nuuskieriges raak.
“Is hulle!” skreeu ‘n Antie wat in haar nagrok uit die huis gekom het.
“Eina, eina…” kla Angelo
Leeroy kom met ‘n spoed verby Boeta hulle gehardloop.
“My jaart ouens.” sê hy sonder om eens om te kyk.
Leeroy is heel nugter.
Boeta kyk om en sien ‘n groep mense wat in die straat bymekaar gekom het. Die antie in die nagrok lyk asof sy verduidelik wat gebeur het. Sy beduie woes met haar hande.
Eers toe Boeta hulle by Leeroy se huis kom verminder hulle spoed en draai vinnig by die groot hek in. Op die gras gooi hulle vir hulle self uit asem neer. Boeta se keel brand.
Wilson begin weer te lag.
“Jet Lee” sê hy en lag harder.
Boeta sit regop.
“Wie is Jet Lee?”
Wilson spring op en wys na Angelo.
“Heh ouens julle hetie gesien hoe attack Angelo daai manne nie. Een moment staan daai moegoe nog met die gun en die next toe skop hy hom ‘n flying kick…”
“Toe moker hy daai ander ene oor die kop met die bierbottel…” voeg Leeroy vinnig by.
Boeta kyk na Angelo. Sy gesig is vertrek van al die pyn. Hy hou sy been vas.
“Heh bra is jy orite?”
Angelo kners op sy tande en skud sy kop.
Leeroy vlieg op.
“Jissie. Kom laat my tannie jou been check bra.”
Net toe roep Leeroy se ma.
“Gee my die gun.” sê hy vir Angelo wat die pistool onder sy hemp uit haal en dit vir Leeroy gee.
Wilson staan op.
“Heh Leeroy jou tannie gaan wil weet wat het gebeur.”
Leeroy sit Angel se arm om sy skouers.
“Ek gaan vir Sheila sê ons het sokker da op die vlak gespeel toe jaag daai vuil melk hond ons.”
“LEEROY”
Boeta staan ook op.
“Awe ons check julle môre.”
Leeroy help vir Angelo tot by die voordeur waar sy ma alreeds begin skel.
“Wag nou eers Shelia jy ken skaars wat het gebeur.” sê Leeroy vir sy ma.
Wilson stamp vir Boeta. ‘n teken dat hulle vinnig moet wegkom antie skel auntie Sheila ook vir hulle.
“Dink jy daai antie het ons se gesigte gesien?”
Wilson skud sy kop.
“Neh, syt te laat uitgekom en hoe gaan hulle anyway sê wie het geskiet…”
“Ek hoop nie die gattas gaan investigate nie…”
Boeta skud die gedagte weg.
By die hoek gaan staan die twee vriende.
“Ons was amper potte vanaand gewees bra.”
Boeta wil so graag vir Wilson sê dat hy homself wil onttrek maar dit gaan lyk asof hy ‘n bangbroek is.
“Ja… Was dit nie vir Angelo nie.”
Wilson knik met sy kop.
“Hoe laat meet ons môre?”
“Leeroy moet maar laat weet.” antwoord Wilson.
“Awe AB.”
“Awe Willa..”
Wilson draai om en stap weg. Boeta sug en draai ook huiswaarts.
Hoe nader hy aan die huis kom hoe vinniger klop sy hart. Vir een of ander rede is hy bang die nuus van die skietery het al by sy ma uitgekom. Nuus travel baie vinnig in die plek.
Boeta sien dat die sitkamer se lig nog aan is. Sy ma sit en wag vir hom. Hy draai in by die hekkie.
Net toe hy aan die deur wil vat vlieg dit oop.
“Boeta Abrahams! Waar was jy die hele tyd!?”
Sy ma staan in die deur en gee hom nie kans om te antwoord nie. Sy is al haar in haar slaapklere, gown aan met ‘n swirl kous op haar kop.
“Ek was saam met Wilson hulle…” kry hy uiteindelik ‘n kans om iets te sê.
Titus ruik skielik aan Boeta.
“Het jy gedrink!?”
“Errr…”
“Jy het! Kyk hoe lyk jou oë! Sies jy stink van die drank!”
“Ek het net…”
Sy ma staan op sy.
“Kom in, kom net in!”
Boeta maak dat hy vinnig verby sy ma kom en gaan in die huis.
“Waar kry jy geld vir drank?”
Sy ma volg hom.
“Ek hoop nie jy het jou taxi fare uit gaan suip nie!”
Boeta wil net by sy kamer uitkom. Hy voel moeg. Moeg van die aand se gebeure en moeg vir sy ma wat al ewig so skel.
“Nee ek het nie. Ek het gepay.”
Titus bly vir ‘n oomblik stil. Dit lyk asof sy Boeta se antwoord prosesseer.
“Gepay?? Jy het dan vandag eers die werk gekry…”
Boeta draai om en kyk vas in sy ma se oë wat hom noukeurig ondersoek. Hy besef dat hy homself in ‘n hoek vas gelieg het. Hoe gaan hy homself nou los lieg…. Titus vou haar arms en wag vir sy antwoord. Boeta staan letterlik met sy rug teen die muur.
Word Vervolg.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.