Boeta – Episode 13. Geskryf deur Eric R Kok

Boeta vat die draai in Wilson se straat. Dus redelik stil behalwe vir ‘n hond wat aanhoudend blaf. Die eienaar kom uit en skel die hond na ‘n tydjie stilbly.  Voor Wilson se huis gaan staan Boeta.  Hy sien Wilson se ma, auntie Monica is besig om wasgoed op...

Boeta vat die draai in Wilson se straat. Dus redelik stil behalwe vir ‘n hond wat aanhoudend blaf. Die eienaar kom uit en skel die hond na ‘n tydjie stilbly. 

Voor Wilson se huis gaan staan Boeta. 

Hy sien Wilson se ma, auntie Monica is besig om wasgoed op te hang by die draad. Sy is diep in gesprek met die neighbor wat langsaan hulle bly. Boeta huiwer by die hek en maak dit stadig oop. Hulle praat oor auntie Patricia wat die vorige aand geroof was. 

Weet hulle. Wat gaan nou gebeur. 

“Soek jy vir Wilson?” 

Boeta skrik. 

“Daai lui hel lê en vrek nou nog…WILSON. WILSON.” Auntie Monica klop hard aan die venster.

Boeta hoor hoedat Wilson antwoord.

“STAAN OP JONG BOETA SOEK JOU.” Auntie Monica draai weer om en smile.

“Gaan solank in my kind.” auntie Monica draai onmiddellik om en raak weer diep in gesprek met haar neighbor wat geduldig staan en wag. 

Sonder ‘n woord gaan Boeta in die huis. 

Hy stap deur die sitkamer. Dus heelwat groter as Boeta hulle sin maar die groot sofas laat lyk dit klein. Die room divider is vol ornamente en breekgoed. Wilson verskyn. Kaalbors en krap oor sy mag. 

“Hey bra jy staan dan nou eers op…” sê Boeta verbaas. 

“Heh pa. Man se kop pyn nog van gister aand se blackies.” 

Wilson gee ‘n lang uitgerekte gaap wat vir Boeta onmiddellik vies maak. 

“Hey man jy maak laat ek so vinnig hiernatoe kom. Was Leeroy hulle?” 

“Jy ken dan ons meet by die ou winkel…” 

Boeta bly stil. 

“Kom ek gaan trek gou my t-shirt aan.” sê Wilson vinnig en verdwyn in die gang af. 

Na ‘n rukkie kom hy terug, t-shirt aan en sandals aan sy voete. 

“Heh pa, ons march.”

Wilson trek die voordeur toe. 

“Wantoe gaan jy nou weer?” vra auntie Monica wat nog steeds by die draad staan met ‘n leë emmer. Gekleurde wasgoed pennetjies hang netjies aan haar rok. 

“Jy laaik straat!” 

“Nee tog ma.” Wilson begin wegstap en Boeta volg. 

“Watse nee tog. En wanneer skoffel jy daar agter.”

Wilson stap vinniger. 

“Wilson!” 

Wilson draai vinnig. 

“As ek terugkom.”

Auntie Monica steek een hand in haar sy. 

“Is elke dag wanneer jy terug kom. Ek gaan ‘n bietjie jou pa kom sê. Lui hel.”

Boeta wil lag en skud eerder sy kop. 

Net toe hy heeltemal seker is hulle is ‘n goeie afstand van Wilson se huis af vra Boeta. 

“Wat het jy jou tannie gesê van die geld?” 

Wilson grinnik. 

“Neh pa die tannie hetie baie uit gevra nie.” 

“Ja maa hoe het jy gesê waar het jy dit gekry?” 

“Ek het vir die tannie gesê ek het ‘n odd job gekry.”

“Watse odd job?” 

Wilson lig sy skouers. 

“Net ‘n odd job, sy was net bly vir die twee duisend rand wat ek gegee het.”

Hy kyk nuuskierig na Boeta. 

“Hoeveel het jy jou tannie gegee?” 

“Drie duisend.”

“Joh. Jyt mos nie laaitie nid ek het daai kind my hele four grand gegee vir my laaitie.”

Boeta antwoord anders praat Wilson weer die hele pad van sy kind. Hy en die kind se ma is nie meer saam nie en die twee stry gedurig oor geld wat Wilson amper nooit het. 

“Daai kind het amper omgekap toe sy al daai geld sien. Sy beter alles vir my laaitie koop….”

“Bra daa is iets wat ek jou wil sê…” Boeta besluit om eers vir Wilson van sy besluit te vertel.

“Wat?” vra Wilson maar Boeta luister nie meer nie. ‘n meisie oorkant die straat by Bhaai se shop het sy aandag getrek. Sy lyk bekend. 

Boeta voel met eens hoe sy hele gesig warm word. 

Dus Leticia. Sy staan en gesels met twee ander mooi girls maar sys mooier. Haar lang hare hang los by haar skouers af. Boeta se hart slaan in ‘n ander raat en klop woes. 

“En nou bra. Het jy ‘n spook gesien?” 

Boeta hoor amper nie vir Wilson hier langs hom nie. 

Leticia kyk ewe skielik in sy rigting en sien hom raak. Sy begin smile en haar twee vriende kyk nuuskierig om. 

Wilson stamp aan Boeta .

“Heh pa ken jy daai kind. Joh joh joh!” 

Leticia se vriendin begin giggel en fluister iets in haar oor. Sy kyk weer na hom en stap reguit na hom toe. Wilson sê iets maar Boeta hoor nie. Skielik beweeg hy in haar rigting dus asof daar ‘n aantrekkings krag is tussen hulle. 

“Hi Leticia…” Groet hy toe Hulle bymekaar is. 

Sy glimlag steeds. 

“Hi Boeta. Wat maak jy in Roodepan?” 

Boeta twyfel eers. 

“Errr Ek bly hier…” 

“Oh that’s nice. Waar in Roodepan?” 

Boeta begin ongemaklik voel. Wat vra die kind dan nou so baie vrae. Hy maak sy keel skoon. 

“Daar onder in Naborn. En jy, waar bly jy?” vra Boeta vinnig voordat Leticia hom verder uit vra. 

“Ek bly in white city.”

“Oh. Is jy nie suppose om by die college te wees nie?” 

“University en nee is my af dag.” korrigeer Leticia en glimlag. 

Haar vriende roep skielik. 

“Ek moet gaan. Hope to see you again.”

“Wat die kind se nommer” fluister Wilson en maak kamma of hy hoes. 

“Nou gaan ek nie jou nommer kry nie?” vra Boeta nes Leticia al om draai. 

Sy kyk na hom maar begin spelerig wegstap. 

“0.. 7…3… 446…”

Boeta besef wat sy doen en haal vinnig sy selfoon uit sy sak en tik die nommer soos wat sy dit sê. Sy en haar vriende klim in ‘n kar en sy bestuur. Sy ry tot by hulle en hou stil. 

“… 8565” gee sy die laaste nommers. Sy knipoog vir Boeta en ry weg met haar vriende wat nou eers lag. 

Wilson is die ene smiles. 

“He pa wil jy my gesê het van daai kind?” 

Boeta kyk na Wilson en terug na Leticia wat wegry in ‘n grand kar. 

Soe! Dink hy. So ‘n girl is die moeite werd. 

Word Vervolg. 

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

AfriForum sal help met eerste dagvaardiging vir uitstaande e-tolgelde

Vrou sterf tydens tref-en-trap

Buurman skuldig nadat buurmeisie (13) geboorte skenk

Paar vir versekeringsbedrog en geldwassery gevonnis terwyl een in tronk is

Lotto uitslae vir 13 April 2024

ACSA sê oor brandstoftekort op lughawens

KYK: Water uit ‘n toilet as ‘gesuiwerde water’ verkoop

As dit nie jy kan wees, soek ek niemand anders nie…

Een sterf en een kritiek toe voertuig tydens ongeluk rol