Boeta se oë rek. Hy kyk na Wilson en sien dié se oë is net so groot…
“Hey, waa kry jy die ding?” vra Wilson en probeer dit by Leeroy afvat.
“Wag eers man, laat ek julle sê…” Leeroy hou die pistool op so ‘n manier dat iemand wat dalk sou verbyloop dit nie sal sien nie.
Boeta staan nog oopmond en verkyk homself aan die geweer.
“Hey Pa. Kom ek kyk,” sê Wilson.
“Waa kry jy die ding?” vra Boeta toe hy uiteindelik sy stem terugkry.
“Die is my cuzin se colt…M19” sê Leeroy ewe spoggerig en streel oor die pistool met sy hand.
Boeta beweeg nader. Hy het nog nooit ‘n regte geweer gesien nie, nog minder vasgehou.
“Jou cuzin van Jozi?” vra Boeta.
Leeroy knik.
Wilson kom ook nader.
“Daai ene wat Mercs hijack?”
Leeroy se grin trek by sy ore.
“Ja daai cuzin van my.”
Hy hou die pistool uit sodat die ander dit weer kan sien. Leeroy kyk eers vir ‘n kort oomblik na Wilson.
“Die ding is gelaai neh. So wees versigtig as jy…”
“He man, jy gaan aan, lyk ons ken nie wat is guns nie. Gee net die ding.”
Wilson gryp die pistool uit Leeroy se hande.
“Ja. Check Ek is self Rambo nou.”
Wilson staan en poseer met die pistool.
“Daai is ‘n pistol domkop,” sê Leeroy en lag.
“So…”
“John Rambo gebruik nie ‘n pistol nie,” sê Angelo en begin lag saam.
“Hey wat lag jy pop!” Wilson rig die pistool op Angelo. Hy koes en dinge word vinnig ernstig tussen die twee.
“Hey los julle se nonsens man. Julle laaik speel!” Leeroy beweeg tussen die twee in en vat die pistool by Wilson.
“Mxm. Vat jou gun man. Ons ken sulke goed.”
Boeta wil graag die pistool van naby aanskou. Hy hou sy hand uit.
“Bra kom ek sien ook…”
Leeroy kyk eers na hom…
“Ek wil net sien,” sê Boeta ongeduldig.
Leeroy gee die pistool vir Boeta.
Die koue metaal is swaar in Boeta se hand. Dit is amper ongelooflik hoedat so ‘n klein wapen soveel gewig kan het.
“Wow…” is al woord wat Boeta kan uitkry. Hy draai die pistool in sy hand en sit sy vinger op die sneller. Boeta laat die bek van die pistool grond toe kyk.
“Kom nou, netou sien iemand.” Leeroy gryp die pistool en druk dit weer agter sy rug weg. Hy laat hang sy T-shirt daaroor.
“Nou wat wil jy met die ding maak?” vra Wilson en blaas ‘n rookwolk.
Leeroy kry weer ‘n stout uitdrukking op sy gesig.
“The question boys is what are we going to do with it…”
“Oh jinne…” sê Wilson en rol sy oë. Wanneer Leeroy belangrik wil voel dan praat hy altyd Engels. Wilson sug aspris.
Boeta vou sy hande en gee ‘n tree nader om te wys hy is geïnteresseerd.
“Sê die ouens man.” Angelo is ongeduldig.
Leeroy vryf sy hande teen mekaar en dit is asof hy sy woorde eers mooi agtermekaar sit voordat hy verder praat.
“Die boys… is ons se meal ticket…”
Hy kyk eers rond. Die twee anties oorkant die pad groet mekaar en keer huiswaarts. ‘n Rondloperhond draf ‘n entjie weg verby en snuif die grond elke nou en dan.
Leeroy gee ‘n tree nader en praat in ‘n fluisterstem.
“Ouens is net Angelo tussen ons almal wat span…”
Angelo trek sy gesig.
“By ‘n fish en chips plek, jisi ek is moeg om soos vis en chips elke dag te ruik,” voeg hy by.
“…Ja soos ek sê…” begin Leeroy weer.
“Ek het ‘n job saam met my cuzin gedoen en dis maklik om zak te maak.”
Wilson vou sy arms.
“Watse job?”
“Property expropriation.”
Boeta en Wilson kyk verbaas na Leeroy.
“Property expropriation…” herhaal Boeta.
“House breaking man,” help Angelo vinnig.
Boeta kyk na Wilson.
“Ons kan zak maak ouens. Moerse zak. My cuzin het op een job amper twintig duisend gescore.”
“Twintig duisend…” herhaal Wilson en dit lyk of hy sy lippe aflek.
Daar is ‘n vuur in Leeroy se oë en selfs Angelo staan en grinnik soos ‘n jakkals. Boeta weet Leeroy het geen moeite gehad om vir Angelo te oorreed nie, want Angelo gaan oral waar Leeroy gaan.
Boeta skud sy kop.
“Neh ouens die plan klink gevaarlik…”
“Dis hoekom ons protection het,” sê Leeroy en hou sy hand waar die pistool is. Boeta is glad nie oorreed nie met die plan nie.
“Ons ken niks van huise inbreek nie en sê nou iemand kry seer…of ons word gevang…”
“Hoeee jinne jy like altyd negative wees,” sê Angelo en hou sy cap vas.
“Niemand gaan seerkry nie…” antwoord Leeroy.
“Ek het saam met my cuzin ‘n job gedoen.
.. Is maklik as jy weet wat jy doen.”
“Ja, die man het experience,” voeg Angelo by en draai weer sy cap vir die hoeveelste keer.
Boeta kyk weer na Wilson vir sy ondersteuning.
“Bra wat dink jy van die hele storie?” vra Boeta.
Wilson smile.
“Ek is in…”
Boeta kyk van Wilson na Leeroy en Angelo wat nog altyd staan en grinnik.
Wilson praat verder.
“…Dit is nie asof ons nie try nie. Angelo het matriek maa kyk waar span hy bra. Wat van ons wat niks matriek hetie. Jy ken hoe sukkel ons almal, elke week geld mors vir cv’s en taxi fare…”
“Ek hoor jou bra…” sê Boeta.
“…Maar dit beteken nie ons moet criminals word nie…”
“Watte keuse het ons, sê my.”
Die uitdrukking op Wilson se gesig maak dat Boeta vir ‘n oomblik wegkyk. Hy kan nie aan ‘n antwoord dink nie.
Wilson is reg. Al wat hulle ken, is swaarkry en dit is hoe hulle in die eerste plek vriende geword het…
Boeta skud sy kop.
“Ouens, doen wat julle wil, maar ek is uit.” Boeta draai om en loop weg.
“Bra… Boeta…Boeta…” roep Wilson, maar Boeta stap aan sonder om terug te kyk. Hy gaan nie sy toekoms so op die spel sit net vir een van Leeroy se simpel planne nie. Nee.
“Heh Pa…” Wilson kom aangedraf. Boeta loer en sien dat Wilson langs hom kom stap.
“Kyk, Ek kan verstaan hoe jy voel, maar dink ook bra. Jy ken die omstandighede by my jaard en by jou jaard…”
Boeta staan skielik.
“Jy het ‘n laaitie. Dink. As jy nou moet gaan sit in die tronk wat van jou laaitie ha?”
Wilson frons.
“Ek dink aan my laaitie bra, jy van alle mense moet verstaan. Dis hoekom ek kans sien om Leeroy se offer te aanvaar bra….”
Wilson draai en skop ‘n klip.
“Jisi Ek is moeg van sukkel en worry. Ek is moeg om te hoor by die huis hoe useless ek is. Ek is moeg om te baklei met my toppie oor geld ek wil my eie geld maak.”
Boeta vererg homself vir Wilson.
“Ek verstaan jou situation maar daar is ‘n beter manier om geld te maak. “
Wilson draai terug na Boeta.
“Soos wat ha… karre was by Zola te wash of groente verkoop by Antie Suzan vir peanuts…Ne bra. Ek wil regte zak maak.”
Boeta wil iets sê, maar hy is spraakloos.
“Wil jy nie ok eendag jou tannie uithelp nie of iets doen vir jouself…”
Voordat Boeta kan antwoord, draai Wilson om en stap weg sonder om te groet. Boeta staan en kyk vir Wilson agterna en ‘n gewig rus op Boeta se skouers.
Lees episode 3 hier.
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.