Roodepan Stories: Boeta – episode 3

Lees ook :

Voordat Boeta kan antwoord, draai Wilson om en stap weg sonder om te groet. Boeta staan en kyk vir Wilson agterna en ‘n swaar gewig rus op sy skouers. 

Hy staan daar vir wat amper soos ‘n ewigheid voel. Wilson het lankal die draai gevat in die ander straat af. Boeta sug en skud sy kop. Hy besluit om huis toe te gaan en vir Wilson te los om af te koel… 

Terug by die huis sit Boeta se ma nog op. Sy is in die sitkamer en lees by die kerslig. Hy stap die sitkamer binne. 

“My ma laaik oor ma se oë kla maar kyk…” sê hy tergend en ‘n glimlag speel om sy mondhoeke. 

Sy kyk op van haar boek af en lyk baie ouer in die kerslig met haar dikraambril op. Sy lyk anders. 

“Is al geselskap wat ek het wanner die TV af is,” antwoord sy vinnig en begrawe weer haar neus in die boek. 

Boeta kyk na die TV. Dis van daai ou boggelrug-TV’s van toeka. Hy wens hy kon vir hulle van daai grênd flat screens kry. ‘n Plasma screen soos die verkoopsman by die winkel altyd spog. ‘n Groot een wat sommer die hele sitkamer gaan volstaan. Antie Suzanne van langsaan gaan omtrent jaloers wees… Die gedagte laat vir Boeta glimlag. 

“En as jy nou so staan en droom… Gaan slaap, is môre kerk.”

Boeta skud die gedagte weg en groet sy ma. Hy draai om en gaan kamer toe. 

Brendan lê en snork al hoeka. Dis ongelooflik hoe so ‘n klein mannetjie soos ‘n ou man kan snork. Brendan hou niks daarvan om te hoor hoedat hy snork of soms in sy slaap praat nie. 

Hulle deel die enkelbed omdat die kamer te klein is vir nog ‘n bed en daar is in elk geval nie geld vir ‘n bunk bed nie. 

Boeta sug en gaan maak die venster effens oop. Brendan lê die hele bed vol en hy draai hom versigtig sodat hy op sy kant kan lê. 

Dit neem ‘n lang tyd vir Boeta om uiteindelik aan die slaap te raak. Hy lê en dink oor Leeroy se plan en Wilson wat so gewillig is om deel daarvan te wees… 

Dis hoe hy aan die slaap geraak het met Leeroy en Wilson in sy gedagtes. ‘n Haan kraai luidkeels iewers buite om die nuwe dag aan te kondig en Boeta maak sy oë stadig oop. Brendan lê lankal nie meer langs hom nie. Dié is seker weer vroeg op. 

Boeta gee ‘n lang gaap en rek homself uit. Die blerrie hoender weet ook net wanneer om ‘n lekker droom te spoil

“BOETA…” kom sy ma se stem van die kombuis af. 

“OPSTAAN, OPSTAAN.”

Hy kan hoor hoe sy werskaf in die kombuis en die reuk van varsgebakte eiers vul vinnig sy neusgate. Boeta sit vinnig regop. Hy is ewe skielik lus vir lekker gebakte eiers of selfs roereiers… met vars gesmeerde brood. 

Hy vlieg van die bed af op en maak dat hy in die badkamer kom om sy gesig af te was… 

*Montage 

“Môre Ma,” groet hy klip hard voordat hy nog reg in die kombuis is. 

Sy ma kyk om waar sy buk by die gasstoof met die pan vol eiers. Sy is alreeds in haar Sondag outfit

“Môre Boeta. Maak solank vir julle koffie, daar’s nog ‘n bietjie suiker in die kas…” 

Boeta laat nie op hom wag nie en spoel gou sy hande af by die sink. 

“… Jy moet na kerk suiker daar by Dullah gaan kry.” 

Boeta frons en kyk na sy ma. Sy skep die eiers. 

“Gaan kry?”

“Ja en sê vir hom hy moet solank ‘n honderd rand op sy boek sit…” 

“Hoekom stuur my ma nie vir Brendon nie?”

“Want Brendon kom altyd met die verkeerde goed terug en hy was geroof laaste keer.”

Boeta hou niks daarvan om by Dullah goed op die boek te vat nie. Dullah is orite maar sy vrou laaik skinder. Sy sit heeldag onder die peperboom en mense dophou en as sy eers serve in die tuckshop… 

Boeta se mond raak sommer bitter. 

“Maar my ma…” 

“Maar my ma niks. Hoe dink hy moet ek die week taxi ry?”

Boeta besluit om stil te bly; as sy ma haar eers opwerk, is daar geen keer. 

“En kry klaar, jy moet nog regmaak vir kerk…BRENDAN. WAT MAAK JY SO LANK DAA BINNE?”

Boeta roer die koffie sonder lus. Hy vererg homself vir sy ma. Vir wat moet hy nou juis Dullah toe gaan? Sy kan mos self gaan. 

Boeta besluit om aspris nie kerk toe te gaan nie. Sy sal weer kla oor hy reeds lanklaas in die kerk was, maar hy worry nie. 

“Ek gaan nie kerk toe nie,” sê Boeta ewe braaf. 

Sy ma draai vinnig om. Haar oë blits. 

“Hoe sê jy?!” 

Boeta weet as hy kan herhaal wat hy gesê het, dan is daar moeilikheid. 

“Ek het nie skoon klere nie,” maak hy gou verskoning. 

Brendan kom skielik uit haar slaapkamer uit en is nog nie klaar aangetrek nie. Hy is kaalbors. 

“HEY KIND HET JY NIE ORE NIE HA? EK HET GESÊ GAAN TREK AAN.” 

“Ek gaan ook nie kerk toe nie,” Brendan trek sy mond.

Dit lyk vir ‘n oomblik asof Boeta se ma haar tong raak gebyt het. Sy trek haar gesig. 

“MOENIE VIR MY OP DIE SONDAGMÔRE SOEK NIE. GAAN TREK AAN.” Sy jaag vir Brendon in die gang af en Boeta hoor hoe sy nou vir hom skel. 

“Die ander ene het elke Sondag ‘n verskoning. As dit nie nuwe skoene is nie, dan is dit klere, nou leer hy sy boetie ook die nonsens…”

‘n Klop aan die kombuisdeur onderbreek haar geskel. Sy raak skielik stil. Die klop kom weer. 

“Antie Tina…” roep die stem. Dis oom Stoffel. 

“Gaan sê vir oom Stoffel ek is nie hier nie,” fluister sy. 

Brendon draf kombuis deur toe en maak dit oop. Hy is nog steeds kaalbors. 

Boeta drink aan sy koffie en loer oor die beker deur se kant toe. 

“Môre oom Stoffel…” 

“Môre Seuna, is Mammie hierso?” vra oom Stoffel. 

“Oom Stoffel en my mammie het gesê ek moet sê sy isi hier nie…” Boeta verstik amper aan sy koffie. 

“Hoor net die kind…” kom sy ma se stem uit die kamer uit. Sy is amper rooi toe sy in die kombuis kom. 

“…Haai. Môre oom Stoffel. Ai, jy weet hoe kan die kinders hulle se eie dinge praat…” 

Boeta besluit om homself skaars te maak en gaan eerder sitkamer toe. 

Hy hoor hoe sy ma en oom Stoffel heen en weer praat. 

“Nee Oom, ek het nie nou geld nie…” 

“Antie Tina, ek wil nou nie snaaks wees nie maar jy’t Woensdag groceries gemaak…” 

“Nou wat dink jy moet my kinders eet!”

“Hulle moet eet antie Tina, maar Ek moet ook eet jy skuld nou al drie maande se rente en…” Oom Stoffel se stem doof weg. Boeta luister nie meer nie. Hy staar na die gat in die ceiling. Die blerrie gat wat al jare daa sit… 

‘n Rukkie later verskyn sy ma in die deur. Sy lyk baie vererg. 

“Boeta, is tyd dat jy ‘n werk kry. Ek kan nie alleen so wil sukkel nie. Nee man. Ha ah…Nee. Ek gaan met mr.Nel vanaand gaan praat.”

Boeta rol sy oë, maar so dat sy nie sien nie. 

“Ons gaan kerk toe en jy beter by Dullah gaan soos ek gesê het.”

WORD VERVOLG. 

Lees episode 4 hier.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App