Boeta – Episode 4. Geskryf deur Eric R Kok

Lees ook :

Boeta stap in die straat af. Hy is diep in gedagte nadat Wilson vir hom ‘n boodskap gestuur het. Wilson wou weet of hy finaal ‘n besluit gemaak het. Boeta het nog nie terug geantwoord nie en die hele storie pla hom. 

“HEY IS MY MAN DAAI.”

Boeta kyk vinnig op… 

“EK SÊ JOU. RAAK AAN HOM DAN RAAK JY AAN MY….”

‘n Groot vrou draf vinnig verby Boeta in haar onderrok. Sy is kaalvoet. 

Boeta staan om te sien wat aangaan. 

Nog ‘n vrou staan by die hek in haar biduur klere. 

“KOM EK WAG JOU.” skel sy terug en klap aan haar boud. 

Die kaalvoet-vrou wie Boeta eers gedink het is besig om weg te hardloop buk en tel ‘n klip op. Sy draai om. 

“JYS STERK BY JOU HUIS. KOM UIT JOU BANG DING.”

Boeta besluit om uit die vrou se pad uit te kom en hy gaan staan eerder op die sypaadjie.

Hy herken die vrou in die biduur klere, dis antie Sylvia. Haar dogter verskyn. Sy pleit met haar ma om in die huis te gaan. 

“NEE. NEE. SYS LAAF. ELKE DAG MOET EK HOOR EK VRY MET LOUW. LAAT SY KOM…” 

“JY DOEN DIT DAN SIES. EK WONDER HOE SOEN HY DAAI STINK BEK.” skel die kaalvoet vrou terug.

“SIES EN JY MET JOU SKURWE VOETE…”

Boeta skud sy kop skamerig en maak kamma asof hy nie vir antie Sylvia sien nie. Hy stap stywe nek verby en kyk eers om toe hy ‘n entjie weg is. Die twee vroue skel nog steeds mekaar en ‘n mans-mens is nou besig om die kaalvoet vrou te keer. Dis seker Mr. Louw...

By Dulah se tuckshop wag Boeta lank om gehelp te word. Hy het al drie keer geroep maar niemand gee antwoord. Net toe hy wil omdraai om te loop verskyn Dulah se vrou antie Patricia. Boeta frons.

“Wat gaan daa bo aan, ek hoor is weer Kollet wat so skel…”

‘Jinne die nuuskierige antie groet nie eens nie’ dink Boeta.

“Ek weet nie aunt Patricia.” sê hy en trek sy skouers op.

Antie Patricia gee vir Boeta ‘n kyk en blaas deur haar neus.

“Wat soek jy?”

“Is Dulah hierso?”

“Is uncle Dulah en nee hy isi hier nie. Ek het gevra wat soek jy?”

Boeta huiwer. Moet hy nou maar die heks vra om vir hom te help of moet hy maar later weer terugkom.

“Praat jong die son trek water.”

“Ek…uhm, my ma het my gestuur auntie Patricia…”

“Jou ma het jou gestuur… Wee vir skuld.” Sy trek haar neus op.

Sies! Dink Boeta. ‘…Die ewige krom neus…’ 

Voordat Boeta kan antwoord gryp aunt Patricia die swart boek van die rak af, lek haar dun vinger en blaai deur die boek. Almal se skuld staan in die boek op geskrywe.

Sy stop en druk haar vinger op die bladsy neer. 

“Julle skuld nog…” 

Boeta sien iemand wat wil kom koop. Dit is ‘n meisie. Sy is baie oulik en is nog in haar kerk klere. Amper sy portuur.

Boeta raak met eens rooi. Die meisie kom staan langs hom en wag haar beurt af. Sy glimlag vir hom.

” ‘n Hele maand agter en julle soek nog skuld…” aunt Patricia loer oor die boek na Boeta. 

“Uhm, aunt Patricia kan maar vir haar eerste help…” sê Boeta skamerig en lek sy onderlip. 

“Moenie vir my sê wie moet ek help nie. Jy kom vra skuld dan is jy nog forward ok nog.”

Die meisie gee vir Boeta ‘n vinnige kyk en hou haarself skielik besig op haar selfoon. 

Boeta maak sy keel skoon. 

“Ek… My ma het my gestuur. Sy het gesê uncle Dulah sal verstaan.”

Aunt Patricia klap die boek kliphard toe. 

“Ja uncle Dulah verstaan mos altyd. Gaan sê vir jou ma sy moet eers haar skuld kom betaal.” 

Die woorde slaan vir Boeta soos ‘n harde hou in sy maag. Die meisie karring nogsteeds op haar selfoon. 

“Kom meisie wat wil jy hê?” vra aunt Patricia en dit is duidelik aan haar gesig dat sy klaar met Boeta gepraat het. 

Boeta draai om en stap vinnig weg. 

Hy hoor hoe aunt Patricia die meisie uitvra oor aunt Sylvia. 

‘…Was dit nou rerig nodig… Die blerrie heks…’ 

Boeta voel seergemaak en kwaad. Hy voel om sommer net daar om te draai en haar nonsens te gaan vertel. 

Wat sien Dulah in daai slegte vroumens. Sy’t ‘n swart hart. 

Die straat was leeg toe Boeta terugstap en by die huis het hy van kwaadgeit eerder gaan lê. Hy besluit om vir Wilson te antwoord. Sy selfoon se battery is op 20% en sal seker nog twee dae hou. Die krag is steeds af. 

‘…Ek het jou gesê ek stel nie belang nie bra…’

Boeta sit weer die selfoon onder sy kussing. 

‘n Notification kom deur. 

‘….NOU LOS ALS…’

‘…Sharp…’ skryf Boeta terug en stuur dit. Wilson se antwoord kom dadelik terug. 

‘….NXA!…”

Boeta druk sy selfoon af. ‘…Wilson kan ook sommer in sy moer in vlieg…’ dink hy en kyk teen die ceiling vas. 

Vir wat moet hulle so sukkel. Vir wat moet sy ma haar werk by die fabriek verloor het en vir wat moes hulle pa hulle gelos het… 

“Boeta… is jy hier?” Sy ma roep van die voordeur af. 

Hy sug en besluit om vir haar die droewige nuus te gaan gee. 

Hy ontmoet sy ma halfpad in die kombuis. 

“Boeta…” sê sy met ‘n glimlag voordat hy kan praat. 

“Raai wat, ek het vir Mr .Nel langs die pad gekry, hy het ons sommer ‘n lift gegee…” 

“Ma…” probeer Boeta. 

“Toe vertel ek hom sommer van jou situasie. Hy sê môre moet jy by die supermarket gaan en jy moet jou cv saamvat… Jy het mos nog ‘n cv neh…” 

Sy haal haar vrouebond speld af. 

“Maar hy’t gesê as jy nie een hetie dan sal hy dit vir jou print… So môre gaan jy vir ‘n interview.” Sy glimlag breed en kyk vir Boeta aan met oë wat glinster. 

“Dis nie wat-wonders nie my kind maar hy’t gesê dis definitief, ‘n ja. Is die Here nie wonderlik om die Sondag vir ons te seën nie…”

WORD VERVOLG.

Lees Episode 1 hier

Lees Episode 2 hier

Lees Episode 3 hier

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief