Boeta maak sy oë stadig oop. ‘n Pot klank iewers in die huis en sy ma praat onhoorbaar met haarself. Boeta gaap en strek homself uit.
BOEM! Klap die deur skielik oop.
“Mammie sê jy moet opstaan.” sê Brendon in ‘n opgewonde stem voordat hy nog reg in die kamer is. Hy is alreeds in sy skoolklere en sy gesig blink.
Brendon verdwyn weer so vinnig soos wat hy in gekom het en sê iets vir sy ma wat Boeta nie kan uitmaak nie. Hy besluit om maar op te staan en reg te maak vir die dag. Hy sien nie daarna uit om by ‘n supermarket te werk nie, maar watter ander keuse het hy?
Hy loer na sy selfoon en besluit om eerder nie vir Wilson te vertel van sy interview nie.
Boeta se ma kon nie ophou praat nie, dit was asof sy die interview met Mr. Nel sou hê. Sy kon ook nie gou genoeg vir Boeta uit by die deur kry nie.
Nou sit hy in Mr. Nel se office. ‘n Paar certificates vul die muur agter die lessenaar en dit is duidelik dat Mr. Nel ‘n baie geleerde man is. Vir wat sal hy dan nou wil by ‘n supermarket werk?
“Jammer ek het so lank geneem…”
Mr. Nel verskyn en maak die deur agter hom toe. Hy steek sy hand uit en gee vir Boeta ‘n baie stywe handdruk.
“Môre Mr. Nel.” groet Boeta.
“Ag man, dis nie nodig vir sulke formaliteit nie. Noem my sommer uncle Norman.” Mr. Nel knipoog vir Boeta en sit op sy groot swaaistoel.
Boeta knik en sit weer.
“So hoe gaan dit met jou mammie?”
Almal weet dat Mr. Nel na sy vrou se dood ‘n alleenloper is en omdat hulle geen kinders gehad het nie is hy baie eensaam. Hy moenie gedagtes kom kry nie…
“Uhm, sy’s orite…” Boeta probeer glimlag.
“En jyt ‘n boetie reg?”
“Uhm ja…”
Mr. Nel smile. Dis ‘n vriendelike smile maar tog is Boeta ongemaklik. Skielik maak Mr. Nel sy keel skoon en sit regop.
“Okay, jou mammie het vir my vertel dat jy ‘n werk nodig het.” Boeta knik.
“…Op die stadium kan ek vir jou ‘n entry-level posisie belowe, as ‘n pakker…Dit betaal weekliks ‘n bedrag van R455 en jy kan sommer môre begin.”
Boeta is stomgeslaan. Hy soek na woorde.
“Uhm Mr. Nel… Ek bedoel uncle Norman, ek het nie matriek nie…” sê hy onseker en hou sy drie bladsy cv uit na Mr. Nel.
“Ag wat jy hoef nie te worry nie…Dis ons se geheim.” sê Mr. Nel. Hy knip weer oog en gee ‘n laggie. Hy vat die cv by Boeta en sit dit op sy lessenaar neer.
Boeta weet nie of hy moet bly sit of opstaan nie.
“Uhm dankie, baie dankie.”
Mr. Nel staan op en steek sy hand in sy broeksak. Hy haal ‘n bruin leerbeursie uit.
“Voor ek vergeet…” sê hy en hou ‘n tweehonderd-rand noot uit na Boeta.
“Dis vir jou taxi fare… Oh ja…” Hy krap weer in sy beursie.
“Gee hierdie vir jou ma…” Boeta twyfel vir ‘n oomblik.
“Uhm dankie uncle Norman.” Hy vat die geld skamerig en staan op.
Hulle skud weer hand.
“Moenie vir nou worry van jou uniform nie.”
“Dankie…” is al wat Boeta kan uitkry.
Boeta het een duisend tweehonderd-rand getel. Die duisend-rand is vir sy ma.
Hy besluit om vir homself ‘n koeldrank te koop by ‘n kafee en na hy klaar gedrink het skop hy die leë blikkie weg. Hy gaan sit op ‘n houtbankie om weer die geld te tel.
Sê nou maar hy vat ‘n honderd-rand van die duisend. Sy ma sal mos nie weet nie… Nee wat as Mr. Nel haar vra of sy dit gekry het…
Boeta sit en stry so met homself en ewe skielik klap die blikkie teen die bankie en rol ‘n entjie weg.
Hy skrik en kyk verdwaas op. Nou wie is nou so aspris…
“Hey, vir wat loop en skop jy so goed rond?”
‘n Aantreklike skraal meisie staan ‘n entjie weg van hom en begin stap in sy rigting. Sy dra ‘n klomp boeke in haar arms.
“Ek?”
“Ja jy…” sê sy en vee die bankie met ‘n tissue af en sit langsaan hom.
Haar donkerbril sit soos ‘n kroon op haar kop en die ligte wind streel haar lang sagte bruin hare.
“En nou, het jy vergeet om te praat.”
Boeta se mond hang oop. Hy sukkel om woorde te vorm en mompel ‘n sagte ”nee”.
Die meisie kyk hom vir ‘n oomblik aan. Boeta weet nie hoekom hy ewe skielik so ongemaklik voel nie. Hy is altyd baie gemaklik om met meisies te praat maar hierdie meisie met haar mooi wit tande en haar sagte ligbruin vel…
“Study jy ook hier?”
“Huh?”
“By Sol…” sê sy en wys na die gebou oorkant die pad. Boeta kyk en let vir die eerstekeer op dat hy in die universiteit se omgewing is.
“Nee ek werk.” sê hy vlugtig.
“Wat doen jy?”
Boeta frons vinnig en sy lag.
“Sorry maar ek vra net… My naam is Leticia en ek is ‘n first year law student…”
Boeta skuif rond.
Die windjie waai haar hare in haar gesig en sy vee dit weg.
“Jy dink seker ek is forward neh.”
Boeta maak sy keel skoon.
“Nee. Net baie oulik.”
Leticia glimlag skamerig en kyk vinnig weg.
“Hoe jinne hoor tog nou…” sê sy.
“Ek praat net die waarheid.” sê Boeta baie confident.
“Roep my Boeta.” sê hy en glimlag terug.
“So Boeta waar werk jy?”
Die vraag laat vir Boeta vinnig kop krap.
Hy kan haar tog nie sê dat hy as ‘n pakker by die supermarket werk nie… Nee nooit.
Hy maak sy keel skoon en dink gou aan ‘n antwoord.
“Ek is ‘n computer technician…” lieg hy vinnig.
“…by Hitech Computers.”
“So jy’s op lunch?”
“Ja, ek moet reeds nou teruggaan…” sê Boeta en staan vinnig op. Hy is kamma haastig.
“Miskien ontmoet ek jou weer…môre selfde tyd?” vra hy en wag vir ‘n antwoord.
Leticia kyk hom eers vir ‘n oomblik aan.
“Ja miskien…” sê sy en steek haar glimlag weg.
Boeta knip vir haar oog en stap vinnig weg.
Eers toe hy seker is hy is ver genoeg gaan hy staan en dink oor die lieg wat hy nou net vir Leticia vertel het. Hy like haar baie en wil haar graag weer sien en dalk met haar uitgaan maar sy kan nooit weet dat hy geen matriek het en as ‘n pakker gaan werk nie. Nee, so ‘n meisie gaan nooit settle vir ‘n loser soos hy nie…
Boeta sug hard en diep. Hoe nou gemaak? As hy nie die job vat nie dan disappoint hy sy ma. As hy die werk vat dan kan hy net sowel sy kanse met Leticia koebaai soen.
Boeta dink vir ‘n oomblik en haal sy selfoon uit.
Miskien is daai offer van Leeroy nie so sleg nie. Sy selfoon is op 12%. Hy druk Wilson se nommer. Sy hart klop in sy keel. Dit lui…
“Aweh Willa… Sho. Ja, kan ons meet?… Ja. Is oor daai saak… Ja… Aweh bra.”
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.