Boeta – Episode 6. Geskryf deur Eric R Kok

Lees ook :

Boeta kom by die huis en kry dat die deur alreeds oop gesluit is. Dit is nou eers tweeuur, sy ma kom eers vieruur van die werk af en Brendon speel by Auntie Rabia tot drieuur toe. Boeta is onmiddellik op sy hoede en gaan stadig die huis binne. 

“Halo… Is iemand hier?” 

Geen antwoord. Stilte. 

Boeta beweeg deur die kombuis en wonder of hy miskien ‘n mes moet vat net ingeval… 

‘n Roering trek sy aandag. Dit kom van sy ma se kamer af. 

“Ma… Halo…” Boeta gaan na haar kamer toe en gaan staan by die deur. 

Sy ma sit op die rand van haar bed nog in haar uniform

“Het hulle vir ma halfdag gegee?” vra Boeta en leun teen die kosyn. 

Hy hoor haar snik en dit lyk asof sy haar gesig af vee. Sy draai en kyk na hom. 

Haar oë is nat en rooi en haar wange lyk opgeswel. 

“Ma… wat het gebeur?” Boeta gaan vinnig nader. 

“Ek is oraait…” sê sy maar haar stem mislei haar. 

“Hoekom huil ma?” Boeta sit sy hand op haar skouer. Hy het nog nooit sy ma in so ‘n toestand gesien nie. 

“Meneer Cronin hulle gaan oor ‘n maand trek…”

Boeta is stom geslaan. Sy ma werk nou al drie jaar by die Cronin familie en sy geniet dit om daar werk. 

“Wantoe trek hulle?” 

Boeta se ma snuif en vee haar gesig af. 

“Hulle trek Engeland toe. Hy sê hulle is moeg vir die misdaad in die land…” Sy sug. 

“Ai my kind, ek weet nie maar alles sal orite wees. Hoe het dit gegaan by Mr. Nel?” 

Boeta haal die geld uit sy sak en gee dit vir sy ma. 

“Hy het die vir ma gestuur…” 

Sy frons en ‘n glimlag verskyn skamerig om haar mondhoeke. 

“Haai maar ek het mos nie vir hom iets gevra nie…” 

“Hy’t gesê dis ‘n geskenk.” voeg Boeta vinnig by. 

“Haai hene dankie… En hoe was die interview?” Haar oë glinster en is vol hoop. 

Boeta dink. Wat sê hy nou. 

“Dit was goed maar ek het ‘n ander werk gekry.” 

Sy ma frons. 

” ‘n Ander werk? BOETA EK HET VIR JOU GESTUUR OM…” 

“Ma dis ‘n werk by ‘n computer shop en hulle betaal goeie geld.” 

“My kind ek het amper vir Mr. Nel gesmeek om jou  te help…” 

“Ek weet Ma maar, Ma weet ek is goed met computers en ons nodig die geld.”

Wilson het vir Boeta ‘n boodskap gestuur dat hulle by die ou gebou moes ontmoet. 

Dis al laatmiddag en die son begin om net te sak. Die ou gebou was voorheen ‘n groot supermarket wat twee verdiepings hoog gestaan het en daar was selfs ‘n minibioscope so het Boeta se ma hom vertel. Daai jare kon jy sommer jou hele groceries daar doen want upstairs was daar selfs ‘n slaghuis gewees.  

Die gebou is nou niks meer as ‘n geskroeide geraamte van wat dit voorheen was. 

‘n Groepie jongelinge sit om ‘n vuur aan die anderkant van die ingang.

“Hey. Jy’s laat.”

Boeta kyk op en sien vir Angelo wat op die tweede vloer staan. Hy gebruik sommer die kortpaadjie en klim die trappies twee-twee op. Hy is versigtig om nie in die gemors te trap nie. 

Angelo is heel opgewonde en begin uitspattig lag toe hy vir Boeta groet. 

“Aweh. Jy’t finally jou mind gechange. Kom ons wag net vir jou.”

Leeroy en Wilson sit na aan die muur by ‘n klein vuurtjie. Hulle is diep in geselskap en Leeroy is die een wat aan die praat is. Hy maak kwaai gebare en sy groot skaduwee oordryf sy aksies teen die muur. 

Boeta stap nader en Leeroy hou onmiddellik op met praat. Hy kyk vinnig na Wilson en weer terug na Boeta. 

“Hey Boeta B… You finally decided to join the revolution.”

“Ken jy ooit wat beteken revolution…” sê Wilson vererg. 

“Ag man jy ken wat bedoel ek…” Leeroy draai vinnig weer sy aandag na Boeta. 

“As jy in is dan is jy in bra so… is jy in?” 

Boeta kom staan by hulle en Angelo gaan sit op sy hurke en maak sy hande bak by die vuur. 

“Wag laat die man nou praat ouens…” sê hy en krap ‘n klompie stokkies bymekaar wat hy op die vuur gooi. Die honger vlamme lek vinnig die droë stokkies op. 

Almal se aandag is nou op Boeta gerig. Hy vermy oogkontak en kyk eerder in die vlamme. 

“Eish ouens ek het bietjie oor die saak gedink en is tough hie buite om kroon te maak…” Hy loer vinnig na elkeen en fokus op Wilson. 

“…Anyway ‘n man moet ‘n plan maak so ek is in.”

Angelo spring op en klap vir Boeta op die skouer. 

“Ja man, daas dit nou.” Hy is heel opgewonde. 

Wilson gee vir Boeta hand en hulle groet mekaar op hulle manier. 

“Aweh Bra ek het geweet jy sal by kom.”

Leeroy grinnik soos ‘n wolf. 

“…Maar op een voorwaarde ouens. Ons gebruik daai wapen net om skrik te maak.” voeg Boeta vinnig by. 

“Ja ja, obvious man. Die ding het skaars bullets in.” sê Leeroy en haal die pistool uit sy agter sak uit. 

Angelo kan sy opgewondenheid nie meer inhou nie en praat uit sy beurt. 

“Sê die man van die plan…”

Leeroy kyk eers na die verste donker hoek by die trappe om seker te maak daar is niemand wat hulle dalk afluister nie. 

“Check here, this is the plan…” 

Hy gaan op sy hurke en wys die ander om ook te sit. 

Boeta sit en skuif nader. 

“We are going to target Dulah’s…”

Boeta val amper agteroor. 

“Wat?!” 

“Listen man…” Leeroy sit sy hand op Boeta se skouer. 

“Check here. Ons klap toe by Dulah. Ons target die till en enige iets wat nxa is…” 

Wilson skud sy kop.

“Ek sê jou Dulah cash uit elke middag. Hy steek sy geld onder die matras weg.” sê Wilson en spoeg op die grond. 

“Dan klap ons toe by sy huis.”

“Nee ouens. Ek stem nie saam nie…” Boeta skud sy kop en wil opstaan maar Leeroy gryp sy arm. 

“Luister bra. Dulah isi hie nie. Hys ini kaap. Is net daai heks en daai Cindy kind…”

Boeta twyfel. Angelo gryp die geleentheid om iets te sê. 

“Bra niemand gaan seerkry nie. Ons march in, ons march uit. Ons maak zak. Simpel.” 

“En jy’t gesê jy’s in bra. Kyk ek ken jy laaik vir Dulah maar hy’t insurance op sy shop so hy verloor niks…” sê Wilson oortuigend. 

‘n Knop vorm in Boeta se keel. Dulah is ‘n goeie mens, dis sy vrou wat sleg is. En wat van Cindy. Sy is onskuldig. 

Boeta staan op. 

“Bra…” Wilson kyk vir Boeta met smekende oë aan. 

Leeroy vlieg op. Hy is heel opgewerk.

“Kyk jy het nou klaar ons se plan gehoor so jy kan nie nou ‘n coward wil wees nie.” Hy het nogsteeds die pistool en sy hand bewe effens.

“En wat as ek loop. Gaan jy my skiet?” Boeta vererg hom vir Leeroy.

Wilson staan op en kom tussen die twee.

“Neh ouens laat ons nou nie baklei nie… Ons is almal brasse hierso…” Hy kyk na Boeta.

“Bra… jy moet besluit jong want ons klap vanaand toe daa by Dulah.”

“Vanaand?” vra Boeta verbaas. 

“Ja vanaand. Hoekom moet ons wag.” sê Leeroy. 

Al drie kyk nou na Boeta vir sy antwoord. Hy kyk weg, op na die hemel en probeer ‘n antwoord tussen die sterre te kry. 

Hy dink aan sy ma en Brendon… Leticia. 

“Okay. Kom ons doen dit.”

Word Vervolg. 

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App