Die plan was simpel maar om binne in Dulah se jaard te kom was moeilik. Dulah het ‘n pit bull en devils fork reg rondom die jaard.
Wilson het voorgestel dat hulle moes eerder wag net voor toemaak tyd.
Boeta staan op die hoek van die straat en Wilson en Leeroy sit voor Dulah se huis terwyl Angelo oorkant by die krag boks staan en alles dophou. Sodra nege uur slaan dan maak aunt Patricia die tuckshop toe. Angelo se werk is om seker te maak die laaste persoon wat gekoop het is buite sig voordat Wilson vir Aunt Patricia gaan roep om weer die winkel oop te maak. Wanneer sy oopmaak dan dreig Leeroy haar met die pistool om die hek se sleutel vir hulle te gee. Tensy iemand aan kom is dit Boeta se werk om vir hulle te fluit sodat hulle weet iets is fout.
Boeta twyfel of die plan van Leeroy gaan werk. Al sy simpel planne het al so ver geflop. Hulle het eenkeer probeer om ‘n car wash oop te maak en Leeroy het die mense se karre wat by die tavern gestaan het met modder besmeer. Hulle was gou uit gevang en ver gejaag…
Angelo fluit. Dus die teken.
Boeta kyk die tyd op sy selfoon… Dus vyf minute voor nege. Aunt Patricia wil seker weer haar soapies gaan kyk.
Wilson en Leeroy beweeg stadig hek toe en staan vir ‘n oomblik. Boeta kyk straat af en straat op. Dus leeg.
Hy gee ‘n kort fluit. ‘n lang uit gerekte fluit beteken daar is moeilikheid.
Wilson roep vir Aunt Patricia.
Uit die hoek van Boeta se oog sien hy twee figure wat aangeloop kom.
Hy kyk vinnig weer na Wilson en Leeroy. Hulle is steeds buite.
Hy kyk terug en die figure kom al hoe nader.
Ewe skielik spring Angelo weg van die krag boks af en draf na die hek toe. Die hond begin te blaf.
Het iets verkeerd gegaan?
Het aunt Patricia miskien agtergekom daars iets fout… Miskien bel sy die polisie.
Boeta se hart begin vinniger klop.
Hy kyk weer na die twee figure wat aankom…
Dus Jason en sy vriend. Dêmmit.
Boeta kyk weer om. Dit lyk asof daar ‘n bohaai by die hek is. Hy moet ontslae raak van Jason en sy vriend.
Dus presies nege uur. Oor vyftien minute moet hulle ver weg wees.
Hy begin loop in Jason en sy vriend se rigting en gee lang tree.
“Aweh.” groet Boeta sommer met die aankom.
Jason sien hom en lyk soos ‘n bok wat ‘n wolf gewaar.
“Ehh Boeta man…”
“Hey moet my nie kom Boeta nie man. Ek soek my geld nou.”
Jason verminder spoed. Hy steek sy hande in sy sakke en dop beide om om te wys hyt niks.
“Check bra ek sal jou geld vir jou gee. Kaow…”
Boeta blok vir Jason.
“Neh van nou af vir so lank as wat jy my skuld gaan jy tol geld betaal as ek jou ini straat kry…”
“Huh?”
“Ja! Watse huh. Kom haal uit. Gee my ‘n klipa nou.”
Jason se vriend frons.
“He bra daai kind wag mos laat ons waai.”
Boeta vou sy arms.
“Niemand gaan nêrens as ek nie my tol geld kry nie.”
‘n vrou skreeu iewers en al drie kyk waar die geskreeu vandaan kom maar Boeta weet alreeds waarvandaan dit kom.
Sy hart stop vir ‘n oomblik en hy draai vinnig om.
“My zak of kry ‘n ander pad.” Hy probeer sy bes om dreigend te lyk.
Vir ‘n rukkie sê Jason niks. Hy kyk vir sy vriend.
“Hoe maak ons nou bra?”
“Laat ons loop bra.” sê sy vriend.
Jason trek sy gesig.
“Is nxa bra. Jy staan so maa is nxa.”
Jason en Sy vriend draai om en stap weg. Boeta wag eers dat hulle ‘n hele ent weg is.
Hy is heel senuweeagtig. Wat kon gebeur het… Wie het geskreeu… Het aunt Patricia of Cindy seergekry…
Boeta draai om en draf vinnig na Dulah se huis toe. Die hek staan oop en hy gaan in. Hy skrik hom lam vir die pit bull wat voor die oop deur lê. Angelo se idee om die hond slaap pille in te gee het gewerk. Maar hoekom is dit nou so stil…
Boeta beweeg vinnig na die oop deur en vries onmiddellik. Sy mond val oop….
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.