Met die uitgerekte droogte trek die boere ongelooflik swaar. Mense van heinde en verre vat hande om te help waar hulle kan.
Met hierdie kom mens tot die besef hoe so iets, mense nader aan mekaar kan bring. Nie net word die boer gehelp met voer en kontantbydraes nie, maar ook die boer se vrou met ‘n boksie hoop.
Hoe werk dit?
Die ‘Boks-vir-Boervrou-projek’ is ’n baie spesiale projek wat geloots word vir boervroue. Kerke en betrokke oranisasies soos die VLV van Wellington en Caritas reël met die gemeenskap om saam te werk en bokse te pak vir die vrouens. Daar is al 40 000 bokse reg oor die land versprei. Die een boks bevat benodighede soos blikkies kos, tee, koffie, suiker, tandepaste en skottelgoedseep – omdat daar eenvoudig nie geld is daarvoor nie. Een boervrou stel dit so -“Partydae moet ons besluit of ons vir die huis of vir die diere moet kos koop.” In die tweede boks is ’n paar lekkernye en versorgingsmiddels.
Hoe groot is die nood?
Omdat meeste mense in die dorp nie direk beïnvloed word deur die droogte nie, word daar nie werklik besef hoe droog dit is nie. Daar is gesinne wat nie meer skool- en koshuis- en universiteitsgelde kan betaal nie. Die groot tekort aan kontant keer dat boere hulle voertuie vol petrol kan maak.
Boodskap van hoop
Alhoewel dit regtig lyk asof daar geen uitkoms is nie, skyn daar wel ’n lig aan die einde van die tonnel. Hierdie projek het al soveel hoop geskep waar mense al wou tou ingooi en opgee. Daar is al soveel harte aangeraak en soveel lewens verander. Hoe sê Jo Black – Hoop, wat is hoop? Dis die wens dat die son weer opkom. Hoop, wat is hoop? Dis dat vrede by ons uit kom. Bring vrede en son waar jy kan en bring die hoop vir Suid-Afrika weer terug.

