’n Span van ongeveer 40 mense, onder andere dierkundiges, student-wildbewaarders, ’n veearts en ’n helikoptervlieënier, het vanoggend 18 Februarie 2019 gehelp om verskeie jong buffelbulle en buffelkoeie vir herplasing na ander natuurreservate te vang.
Charles Hall, die bestuurder van Dronfield-natuurreservaat, sê: “Die buffels word herplaas om twee nuwe troppe by Rooipoort-natuurreservaat naby Kimberley en Venetia-natuurreservaat in Limpopo te stig.”
FiND iT het die span in die veld vergesel. Meer as agt buffels is gepyl. Een buffelkoei het kalwers gehad en die span het gesorg dat hulle nie van die moeder geskei word nie.
Wiaan van der Linde en ’n veearts, Emma Rambert van Wintershoek Safari’s, het gehelp met die pyl van die buffels en Danie Victor het die helikopter gevlieg.
Piet Oosthuizen, die senior bestuurder van De Beers se ekologiese eiendomme, asook Corné Anderson, bestuurder van bio-diversiteit en bewaring van De Beers, het bystand gelewer.
Studente van Noord-Kaap Natuur Akademie het praktiese opleiding ontvang.