Die DA het vandag self ingespring om slaggate in die stad reg te maak.
Andrew Louw, premierskandidaat van die DA in die provinsie, sê die paaie in en om Kimberley is in ’n haglike toestand.
“Die inwoners van Kimberley vra al vir meer as ’n jaar vir Sol Plaatje-munisipaliteit om die slaggate reg te maak. DIt word geignoreer. Die paaie lyk net al hoe slegter. Kimberley is nie meer die stad van die Groot Gat nie, dis die stad mét groot gate!”
Louw sê as die DA in bewind is sal hulle fokus op die pad herstel. “Ek het van baie betroubare bronne verneem dit sal slegs R5 miljoen kos om die slaggate in Kimberley, Roodepan, Greenpoint tot by Hillcrest, reg te maak. As die fondse reg aangewend word, kan dit gedoen word.”
Louw sê die DA het R150 000 opsy gesit om self gate reg te maak. “Dit sal natuurlik nie alles kan regmaak nie, maar dit kan ’n verskil maak. Ek wil daarom ook vra vir ander belanghebbendes om deel te word van die projek.”
Hy het na Kaapstad en Johannesburg verwys, waar die regmaak van slaggate ’n prioriteit is.
“Slegs wanneer die provinsie deur die DA bestuur word, sal ons kan toesien dat die fondse van die regering reg benut word.”
Fotos: Tania Coetzee