PRIESKA. – Die polisie op Prieska in die Pixley ka Seme-groep het ‘n manlike verdagte in verband met die besit van vermoedelik gesteelde goedere gearresteer.
Polisielede het Saterdagoggend ‘n klag van gesteelde goedere by ‘n huis in Kodwastraat in Ethembeni opgevolg.
Kapt. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê ’n gesteelde 74-cm plasma-TV is gevind en die verdagte is dadelik in hegtenis geneem.
Die polisie op Prieska het ook ‘n stop-en-soek operasie uitgevoer. ‘n Manlike verdagte is deur die polisie gestop en het dadelik weggehardloop. Die polisie het agterna gejaag waarna hy in hegtenis geneem is by ‘n huis waar hy weggekruip het. Hy is in besit van ‘n aansienlike hoeveelheid dagga gevind.
Pixley ka Seme se bevelvoerder, brig. Adonis, het die polisielede geprys vir die goeie werk wat gedoen is.