“Vir ons demokrasie om te kan floreer, veral in tye van hewige politieke veldtogte, is dit noodsaaklik vir ons polisiediens om professioneel op te tree, sonder om enige politieke partye te bevoordeel,” sê Andrew Louw, DA-premierskandidaat van die Noord-Kaap.
Nie kant kies nie
Hy sê ons polisiebeamptes moet omsien na die veiligheid van ons gemeenskap en nie optree as die sekuriteit van enige politieke partye nie. “Ons moenie vergeet dat politieke geweld en intimidasie ‘n baie groot en werklike bedreiging in hierdie provinsie is nie. ’n Lid van die gemeenskap, Johannes Baaitjies, het sy lewe weens politieke oortuigings verloor.”
Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap vereis dus dat luitenant generaal, Rismati Shivuri moet verseker dat gepaste dissiplinêre stappe geneem sal word teen die polisiebeamptes van John Taolo Gaetsewe, wat misluk het in hierdie noodsaaklike opdrag.
Aktiviste word aangeval
Volgens Louw is twee DA-aktiviste, Piet Mechale en George Mechale, van Bankhara, vroeër die week genader deur ‘n ANC-ondersteuner wat hulle beskuldig het dat hulle sell-outs is, wat “werk vir die boere”. “Hy het ons aktiviste met ‘n panga en ‘n rubber aflosstok aangeval, wat veroorsaak het dat hulle ernstige besering opgedoen het.”
Omstanders het dit reggekry om die ANC-ondersteuner se wapen by hom af te neem, voordat hy weggehardloop het.
Polisie wil nie help nie
Louw vertel verder dat die aktiviste die saak by die plaaslike polisiestasie aangemeld het, maar die beampte het geweier om ‘n klag van intimidasie en aanranding te open.
“Die enigste hulp wat die aktiviste ontvang het, was ‘n leë J88-vorm. Die plaaslike kliniek het geweier om dit te voltooi omdat daar geen saaknommer op die dokument was nie. “Teen hierdie tyd was dit te laat om terug te keer na die polisie,” sê hy.
Aktiviste word in hegtenis geneem
Volgens Louw is die aktiviste die volgende oggend in hegtenis geneem.
“Nadat raadslid Willie Aucamp, met die bevelvoerder, genl. Bean, vergader het, is die twee aktiviste vrygelaat. Generaal Bean het belowe die regte dokumente sal oopgemaak en die saaknommer aan die aktiviste gegee word,” sê Louw.
Hy is dankbaar dat genl. Bean met die beamptes ontmoet het om die ernstige situasie rondom politieke intimidasie te bespreek en dat dit baie ernstig opgeneem moet word.
Professionele polisiebeamptes nodig
“Maar ons dring daarop aan dat die beamptes wat ons aktiviste onbillik, onregverdig en onnodig ontneem het van vryheid, deur ‘n dissiplinêre proses geneem word. Dit kan nie toegelaat word dat ons polisiebeamptes wat in die strate is om die publiek te beskerm net optree wanner dit hulle pas of net volgens hulle politieke belange nie,” sê Louw.
Die DA vra vir professionaliteit van die polisiediens. “Professionele polisiebeamptes, wat die veiligheid van die gemeenskap verbeter en van die regte politieke partye is,” sê Louw.