Zimri de Wet (9) het op die ouderdom van drie begin met modelwerk en van daar af het sy ’n paar titels ingegryg.
Begin op jong ouderdom
Hierdie jong modelletjie se ma, Jolandi de Wet, het haar ingeskryf sodat haar kind selfvertroue kon opbou. ’n Jaar nadat sy begin het, op die ouderdom van vier, het ’n vrou wat ’n modelskool het, vir klein Zimri raakgesien. “Ons as ouers het geen idee gehad van die modelwêreld nie. Toe ons kind eers begin, was daar geen keer aan haar nie,” sê Jolandi.
Eerste kompetisie
Zimri se heel eerste kompetisie waaraan sy deelgeneem het, was Pro Plants se Mej. Jasmyn waar sy met die titel van die eerste prinses weggestap het. Op provinsiale vlak het sy die Noord-Kaap se naam hoog gehou en is gekroon as Noord-Kaap Toddler and Tween of the World. In 2016 en 2017 was sy die eerste prinses vir Elite SA.
Miss Mini RSA
Hierdie blondekop-dogtertjie het in 2017 en 2018 ook die Miss Mini RSA-kompetisie gewen. “Dit behels dat sy gaan vir ’n onderhoud sodat die beoordelaars kan sien of sy goed kan praat,” verduidelik Jolandi. Dan het hulle geloop in alledaagse kleredrag, ’n hemp en jean, voordat sy in aanddrag gepronk het. Daar was ook die talent-afdeling, waar Zimri gesing het en die Mej. Fotogenies-deel.”
Internasionale geleentheid
Hierdie titels bied Zimri die geleentheid om oorsee aan internasionale modelkompetisies te gaan deelneem, maar haar ouers voel sy is nog te jonk daarvoor. “Dit is te veel druk op ’n kind. As ek sien hoe moeg hulle is na ’n plaaslike kompetisie van drie dae, kan ek net dink hoe erg moet ’n internasionale kompetisie wees,” vertel Jolandi.
Ander prestasies
Zimri het al op die voorblad van die Youthful Talent Model Magazine gepryk en drie keer verskyn in die internasionale kindermodeltydskrif, Brand, verskyn.
Soos enige ander sport
Jolandi verduidelik modelwerk is soos enige ander sport. “Jy moet ook hard oefen en werk. Net soos in ander sportsoorte is daar ook spesifieke kleredrag wat jy moet dra.”
Selfvertroue
Jolandi verseker dat modelwerk beslis ’n kind help om goeie selfvertroue te kweek. “Ek kon duidelik sien dit help ook met haar skoolwerk, veral met iets soos ’n mondeling – sy is glad nie skaam nie,” spog dié trotse ma.
Vele talente
Zimri sing in die Kimberley-kinderkoor en neem deel aan verskeie danssoorte: tap, Irish, jazz, moderne en free style. Sy is aktief betrokke by die skool en ’n akademiese uitblinker. Sy doen ook gereeld liefdadigheidswerk om ’n verskil te maak in iemand anders se lewe.