Nicholas Ninow, die Dros-verkragter, se saak is uitgestel tot September wanneer hy op aanklag van verkragting, ontvoering, besit en gebruik van dwelms, aanranding en regsverydeling tereg sal staan.
Al die relevante klagtes is Dinsdagoggend in die landdroshof in Pretoria tydens Ninow se verskyning aan hom beteken. Twee nuwe klagtes, ontvoering en regsverydeling, is tydens die verskyning bygevoeg.
Ninow se saak is op die hooggeregshofrol geplaas van 9 tot 20 September 2019.
Ninow het op 22 September 2018 ‘n sewejarige meisie by ‘n Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag.
Die saak is oorgeplaas vir verhoor nadat Ninow deur ‘n paneel van drie psigiaters en een sielkundige by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal ge-ëvalueer is. Daar is bevind dat hy toerekeningsvatbaar was tydens die misdrywe.
Daar is ook bevind dat hy nie aan enige sielkundige of psigiatriese toestand gely het wat sy vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei kon beïnvloed nie.