“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” – Juan deel 9

Lees ook :

FiND iT het gisteraand vir die eerste keer self met Juan van Rensburg, voormalige dwelmverslaafde, in die CIARA-rehabilitasiesentrum gepraat.

Die vorige weke het Ellouise van Rensburg, sy suster, ons laat weet hoe dit met hom gaan.

Juan praat baie maklik, alhoewel hy nie die verslaggewer ken nie. Hy het vertel hoe dit met hom gaan, hoe hy geestelik gegroei het en hoe hy positief bly.

“Aan die begin was dit baie vreemd. Toe ek voor die rehabilitasiesentrum stop, het ek gedink ek gaan net twee maande hier kan uithou, maar vandag is ek presies halfpad deur die program. Die laaste 26 weke het so vinnig verbygegaan.”

Verskillende fases

Juan sê daar is drie fases in die program. “Fase 1 is baie streng. Dit leer jou weer om respek te hê vir jouself en vir ander en om stiptelik te wees. Indien jy sekere dinge doen wat jy nie moet doen nie of wat nie respekvol is nie, word jy gestraf. Die straf kan insluit om skofte te werk in die kombuis of jy moet PT (physical training/fisiese oefening) doen. Ek het gelukkig nog nooit hier PT gedoen nie. Ek weet hoe om myself te gedra,” lag hy.

“Fase 2 is gemakliker. Daar is steeds reëls, maar dis nie so erg soos fase 1 nie. Jy word dan van Noupoort geskuif na Middleton, waar ek nou is. Ek moet nog vir 15 weke hier bly. Daarna gaan ek terug Noupoort toe. Ek gaan dan die laaste drie maande fase 3 daar doen as ’n ‘senior resident’.”

Selfoongebruik

Juan kry oor ’n week sy eie selfoon en kan dan oproepe en SMS-boodskappe ontvang. “Ons mag steeds nie op sosiale media wees nie. Hulle laai ’n toep op die foon om sosiale media te blok. Daar is egter maniere om die toep te systap, maar indien hulle jou vang, voeg hulle nog ses weke by die jaar, so ek wil net ’n klein simpel foon hê, wat net kan bel en SMS. Dit hou jou uit die versoeking.”

Dwelms

Hy sê ’n ding wat begin het as ’n grap op universiteit, het sy hele lewe verwoes. “Ek het so baie verloor en sou nooit geëksperimenteer het met dwelms as ek geweet het wat ek nou weet nie. Ek fokus vir nou eers op die hier en nou, maar wanneer ek klaar is, gaan ek my lewe weer moet opbou.”

Hoe bly hy positief?

“Ek kry elke dag my krag van die Here. Ek kon dit nie so ver gemaak het sonder Hom nie. Dis ’n pad wat ek nou moet stap, maar daar is nog baie groeiwerk wat buite op my wag as ek klaar is. Dwelms maak jou ’n vieslike mens, maar ek het baie ondersteuning van my familie en vriende. Hulle is darem steeds lief vir my.”

Juan se storie

“Ek het altyd baie skaam gekry om vir mense my storie te vertel en wou dit altyd wegsteek, maar as ek dalk mense kan help deur te praat hieroor, is dit genoeg vir my. Al kan ek net een persoon help wat deur dieselfde gaan, is ek tevrede.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App