“Ek wil saam met my kliënte lag en huil”- Jolene

Lees ook :

Jolene Herselman (34), oorspronklik van Kimberley, vertel hoe sy haar laerskooldae as kaalvoetkind in Laerskool Eureka deurgebring het, waarna sy haar hoërskool loopbaan by Hoërskool Diamantveld voltooi het.

Jolene is ‘n persoonlike afrigter wat vir FiND iT drie van haar kliënte gekies het om aan dié drie maande se transformasie deel te neem.

In dié tyd oefen die drie kliënte by Jolene. Hulle hou FiND iT se lesers ook op hoogte van hulle vordering.

Wie is Jolene?

Alhoewel Jolene ‘n passie vir oefen en ‘n gesonde leefstyl het, is sy op haar gelukkigste wanneer sy iets in die buitelug kan doen. “’n Dag langs die rivier, terwyl ek na die sonsondergang kan kyk en die sterre bo my kop, is ek op my gelukkigste. Dit is my happy place.”

Buiten gholf, geniet sy dit ook om kos te maak en lekker te eet. “Ek is altyd honger, so as jy my met ‘n frons sien, voer my – ek is heel waarskynlik honger en nie vies nie,” lag sy

Sy vertel dat sy ‘n mense-mens is, en ook ‘n groot diereliefhebber. “Alhoewel ek bietjie liewer vir diere is,” spot sy.

“Ek is ‘n positiewe mens, soms bietjie naïef, maar ek wil altyd in ‘n gelukkige einde glo. Ek is ‘n fighter. Ek glo aanhouer wen, en as daar een ding is wat ek in mense wil wakker maak, is dit die fight – baklei vir wat jy wil bereik, hou aan en hou moed.”

Passie vir oefen

Jolene is sedert 2012 in die bedryf, alhoewel sport nog altyd ‘n groot liefde en passie was.

Sy het haar kursus as persoonlike afrigter deur  HFPA gedoen en ook ‘n diplomakursus in sportwetenskap voltooi. Sy is ‘n gekwalifiseerde sportspesialis.

Hoekom haar eie gimnasium?

Jolene vertel mense sluit met die beste voorneme by ‘n gimnasium aan, maar hulle weet nie altyd weet wat om te doen nie. “Persoonlike afrigters by ‘n gimnasium is nie altyd bekostigbaar nie. My doel van my gimnasium is dat ek mense se lewens wil verander. Ek wil hulle die leiding kan gee om die regte keuses te maak wanneer dit by eet kom. Ek wil daar vir hulle wees wanneer hulle nie meer kan nie.”

Jolene vertel dat haar grootse doel is om ‘n pad saam met elkeen van haar kliënte te stap.

“Ek wil elke tree, elke teleurstellings en elke oorwinning saam met hulle daar wees. Ons moet saam kan lag en saam kan huil.”

Belangrikheid van oefening

Volgens Jolene is oefening nie net goed vir jou liggaam nie, maar ook goed vir jou gees.

“Ek belowe jou, na ‘n slegte dag is ‘n oefensessie die beste medisyne. Dit help jou om van jou frustrasies ontslae te raak en jou kop skoon te kry. Gereelde oefening verbeter ook jou lewenskwaliteit. Jy is meer energiek en verrig daaglikse take met min moeite. Dis ‘n wen al die pad,” verseker sy

Self probeer sy elke dag oefen, maar net soos enige ander mens, het sy nie elke dag nie motivering om te oefen nie. “Dit verg baie selfdissipline om myself sover te kry om dan te begin oefen, maar na die eerste 10 minute voel ek al klaar beter.”

Hoeveel keer ‘n week moet mens oefen?

“Net om aan die gang te bly, moet jy ten minste drie keer ‘n week hard oefen, maar bly aktief op jou afdae. Gaan stap of swem. Jy moet ook in ‘n roetine kom om voor jy gaan slaap, lunges of squats te doen. As jy ernstig gewig wil verloor of spiere wil bou, moet jy minstens vyf keer ‘n week oefen,” beveel Jolene aan.

Deur al die oefening moet jy jou lyf ook die kans gun om te herstel. “Rusdae is net so belangrik soos die dae waarop jy oefen. Maak seker jy sterk goed aan op jou afdae.”

Alhoewel oefening ‘n groot rol speel, is wat jy eet die belangrikste!

“Die gewone mens oefen slegs ‘n uur per dag, maar eet twee of drie maaltye ‘n dag. Mens moet eet om aan die gang te bly, dis ‘n menslike instink, maar deur jou eetgewoontes te verander en gesonder te eet, kan jy jou doelwitte soveel vinniger bereik. Jy gaan nie resultate sien as jy nie jou eetgewoontes aanpas nie en dis ‘n groter probleem as te min of nie hard genoeg oefen nie.”

Jolene se vyf beste wenke vir oefening

1-Om te begin oefen, is maklik; dis die aanhou wat elke dag ‘n keuse is en waarby jy moet volhard. Byt vas, dit word makliker!

2- Maagoefeninge is baie belangrik, werk dit by jou program in. Hoe sterker jou maag is, hoe beter sal jou postuur wees en hoe meer kan jy doen.

3-Postuur! Postuur! Postuur! As jy nie die regte vorm het nie, gaan jy nie die regte spiere oefen nie en jouself beseer.

4-Beheer jou aksies en kies gepaste gewigte. Om met ‘n gewig te oefen wat te swaar is, gaan jou postuur negatief affekteer en om ‘n oefening met momentum te doen, is oneffektief. Om 20 beheerde krulle reg te doen, is beter as om 50 momentumoefeninge te doen.

5- Laastens, wees realisties wanneer jy doelwitte stel. Of jy gewig wil verloor of spiere bou, dit neem tyd. Stel klein doelwitte wat oploop na jou einddoel, stap vir stap. Byt vas en druk deur!

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App