Corné (37) en Adele Viljoen (38) is al 15 jaar getroud. Hulle gesels met FiND iT oor hoe hulle ontmoet het en hulle wonderlike reis saam.
Corné werk as pastoor by Taberna Dei en Adele as kreatiewe hoof. Die paartjie het twee seuns Ruben (10) en Carlo (7).
Hoe het hulle ontmoet?
Corné en Adele het ontmoet toe hulle albei op universiteit was. Corné het teologie by die AGS-kollege studeer en Adele het oudiovisuele produksiebestuur by R.A.U (Randse Afrikaanse Universiteit) studeer.
“Ons het elke Woensdagaand vir selgroep bymekaargekom. Sy het klavier gespeel en ek het kitaar gespeel,” sê Corné.
Verlief
Hulle het eendag na T.O.-strand vir ‘n stranddiens gegaan en dit is daar op die duine dat hulle verlief geraak het.
Die tweede keer was dit net reg
Corné sê “Ons het ‘n verhouding aangeknoop nadat ons verlief geraak het, maar ek was nie heeltemal seker nie.” Hy het besluit dat hulle ‘n breek moes vat sodat hy sy gedagtes kon uitsorteer. Hulle het mekaar ‘n jaar later weer op dieselfde strand raakgeloop. “Dit is toe wat ek besef en besluit het dit is reg.”
Adele sê “Dit was nie vir my ‘n moeilike besluit nie. Ons het baie goed oor die weg gekom. Ons het net geclick en was baie goeie vriende. Daar was geen twyfel aan my kant nie, maar ek moes hom laat gaan. Ek het vir hom gewag en hy het teruggekom. Ons het ‘n baie goeie partnership. Ek glo die Here het ons by mekaar gesit. Ons is soos ‘n pot en ‘n deksel, heeltemal verskillend, maar ons pas by mekaar.”
Moeilike tye
Die paartjie stem saam dat dit vir hulle moeilik was om gereeld te trek. Hulle het in ‘n kort rukkie drie keer na verskillende provinsies getrek. “Elke keer verg dit ontworteling, ontwrigting en ongerief. Dit was elke keer ‘n sukses, maar mens moet van voor af leer inpas en nuwe vriende maak. Dit is tog traumaties, al was dit jou eie keuse. As jy so trek, het jy niemand behalwe mekaar nie. Dit sou definitief nie gewerk het as ons nie mekaar gehad het nie,” vertel Corné.
“Dit was vir die kinders ook moeilik. Hulle moes nuwe vriende maak en leer om aan te pas. Gelukkig leer kinders vinnig om verandering te hanteer. Dit het ons as ‘n familie sterker gemaak,” sê Adele.
Goeie tye
“Ons reis saam raak net beter soos die tyd aanstap. Hoe langer ons saam is, hoe lekkerder raak dit. Mens word een. Ons doen regtig die lewe saam,” vertel Adele.
Corné sê: “Ons is bevoorreg om saam voltyds in die bediening te wees. Ons lewe is ‘n avontuur.”
Boodskap aan ander
“Die slypingsproses is moeilik, maar die moeite werd. Jy moet jouself en jou huweliksmaat verstaan. Verstaan hoekom hy/sy iets doen. Almal doen en sien goed verskillend. Leer mekaar ken. As jy die ander persoon verstaan, sal jy hom/haar makliker aanvaar en saam met hulle gewoontes kan lewe. Komunikasie speel ook ‘n baie groot rol,” sê Adele.
“Liefde, geduld en volharding. Dit word beter as jy bereid is om die pad saam te stap,” sê Corné.