Gefluit by Tramway Cafe stil

Lees ook :

Fransisco Perestrelo de Nobrega, beter bekend as Frank, is die naweek skielik aan ’n hartaanval oorlede. Hy was 74 jaar oud. Hy is in Portugal gebore, maar het sy geboorteland in 1964 vir Suid-Afrika verruil en in Kimberley kom woon.

Frank het vir die afgelope 37 jaar die Tramway Cafe, oorkant Star of the West, besit. In 1992 het hy ook die kafee by die Karen Muir-swembad oopgemaak, waar sy twee seuns van ’n jong ouderdom af begin werk het.

Hy het soveel liefde gehad

Frankie, Frank se oudste seun, sê sy pa was ’n baie stil en besonderse mens met die mooiste hart. “Hy het soveel liefde vir sy medemens gehad en was nooit in ’n slegte bui nie. Hy het altyd ’n grappie of twee of ’n storie oor sy verlede te vertel gehad.

Hy het ons geleer…

My pa se gefluit, wanneer iemand by die kafee instap, sal my altyd bybly, sê Frankie. Hy het so baie vir my en my broer geleer – jy vat elke dag soos dit kom, gee altyd jou beste en mik vir die hoogste. Wees altyd net jouself. Wees dankbaar vir wat jy het; dinge kom nie altyd maklik in die lewe nie. Ons het van kleins af geleer ‘n mens moet hard werk vir dit wat jy wil bereik.

Begrafnisreëlings

Frank se begrafnis is Vrydag om 11:00 vanuit die St Mary’s Cathedral in Kimberley.

Hy word oorleef deur sy vrou, Agostina, hulle twee seuns, Frankie en José, en sy kleindogter, Zandria. “Zandria is sy enigste kleindogter en was my pa se wêreld,” sê Frankie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief