Werner Strauss, pastoor by die Taberna Dei-kerk in Kimberley, se seun Reinhardt (8), is verlede Saterdag met behulp van die gemeenskap gevind nadat hy vermis geraak het. Strauss en sy vrou, Lizelle, was rasend van bekommernis nadat Reinhardt vermis geraak het. Reinhardt, wat outisme het, het verlede Saterdag volgens Werner vreemd opgetree voordat hy vermis geraak het.
Reinhardt is deur die hele Kimberley gesoek en is later die aand op die verbypad op pad na Barkly-Wes gevind.
Het Reinhardt op erf probeer hou
Werner sê hulle het die hele Saterdag probeer om Reinhardt op die erf te hou. “Ons seuntjie het outisme en hy het baie snaaks begin optree die Saterdag. Hy het heeltyd probeer om oor die palissade te klim en ons het letterlik 10 minute nie gefokus nie. Hy is oor die die palissade en hy is uit. Ons het hom begin soek en ek het Whatsapps gestuur. Soos sosiale media maak, het dit baie vinnig gegaan. Ons was baie bekommerd, want omdat hy outisme het, kyk hy nie eintlik vir karre nie. Hy is bitter fiks.”
Almal bied bystand en hulp
Werner sê almal het gehelp soek. “Dis amazing hoe almal ons bygestaan het. Almal het gehelp soek. Mense wat ek nie geken het nie, het ek die aand met ligte gekry. En hulle het hom gekry, op die verbypad op pad na Barkly-Wes gevind. Hy is deur daai veld. Mense het hom daar gevind en hulle het die welsyn ontbied,” verduidelik Strauss.
Drukking op brein veroorsaak pyn en hallusinasies
Reinhardt se gedrag was vir twee dae daarna baie aggressief. “In die paar dae wat gevolg het nadat Reinhardt opgespoor was, het sy gedrag baie meer aggressief geword. Ons het hom na dokters, pediaters en neuroloë in Bloemfontein geneem. Hy het verlede jaar ’n siekte gehad wat verhoogde drukking op sy brein veroorsaak. Dit gaan gepaard met pyn en hallusinasies en dit is hoekom hy probeer ontvlug.”
Outisme is ’n uitdaging, maar operasie bring hoop
“Woensdag wat kom, as die Here wil, gaan hy ’n operasie kry vir ’n shunt wat die drukking en pyn sal verminder. Dit sal hopelik ook help met sy drang om weg te hardloop. Ons het intussen vir hom ’n GPS-horlosie gekoop om hom te track, as hy op een of ander manier weer weghardloop. Ons glo na die operasie gaan hy nie meer daardie behoefte hê nie. Ons glo hy gaan nie meer daardie pyn hê nie. Die uitdaging is hy kan nou nie soos ‘n normale kind vir jou mooi verduidelik hoe hy voel nie, as gevolg van sy outisme. Dis hoekom ons nie verstaan het wat met hom aangaan nie,” verduidelik Werner.
Baie dankbaar vir gemeenskap
“Ons spreek ons opregte dank uit vir die gemeenskap wat ons so gehelp het om ons kind op te spoor.”