’n Gewapende roof het na bewering gisteraand, omstreeks 20:00, by die robot by die vierrigtingstop van McDougal- en Memorialweg plaasgevind.
Paul van Niekerk van Hopetown vertel aan FiND iT hy het gesien wat gebeur het. Van Niekerk vertel hy het by die robot stilgehou wat pas rooi geword het. Voor hom was daar ’n dame in ’n wit Hilux-bakkie en voor haar was ’n vragmotor. Sekondes nadat hulle stilgehou het, het ’n groen/swart BMW tot stilstand gekom soos wat hy deur die draai gegaan het. Paul het gedink dit is vreemd, omdat die BMW nie agter die streep stilgehou het nie, maar eerder meer agtertoe, naby die agterkant van die vragmotor.
Gelyktydig het daar ’n bakkie langs Paul ingetrek. Hy vermoed dit was om hom vas te trek. Hy het gesien hoe ’n man na die bakkie voor hom stap. Die bestuurder, volgens Paul ’n dame, se ruit was oop. Hy het aangeneem die man wil met die persoon in die bakkie gesels. Oomblikke later het hy ’n gestoei in die bakkie gesien. Dit is toe dat hy uitklim om ondersoek in te stel. Toe hy die bakkie nader, het ’n ander man uit die BMW geklim en’n pistool na hom toe gemik. “Binne sekondes was altwee mans terug in die BMW en het weggejaag. Dit insident het so vinnig gebeur soos wat dit die robot geneem het om van rooi na groen oor te slaan,” vertel Paul. Hy sê hulle wou vermoedelik die bakkie steel, maar het net weggekom met die vrou se handsak.
Die dame was verbouereerd, maar kon ten minste haar man bel. Volgens Paul is die vrou van Noord-Wes. FiND iT kon haar nog nie identifiseer teen die tyd van publikasie nie, maar as enigiemand met inligting na vore kan kom, stuur ’n e-pos aan tania@find-it.co.za.