Hansie Galloway bly in aanhouding

Lees ook :

Galloway, wat op 7 Maart by sy huis in hegtenis geneem is, omdat hy ‘n interdik oortree het, bly in aanhouding.

Galloway het op 7 Maart op aanklag van seksuele aanranding in 2015 teen ‘n negejarige meisie in die landdroshof verskyn.  Die meisie was 4 jaar ten tye van die misdryf. Hy het op die dag van die verskyning sy interdik oortree deur aanmerkings en dreigemente na die meisie se ouma en tannie te slinger.

Die tannie van die meisie het later die dag die polisie ontbied. Hulle het bevind dat Galloway sy interdik oortree het en hom gearresteer.

Die meisie se ouma en voog het in Junie 2018 ‘n interdik namens die meisie, en die res van die familie, teen Galloway gekry.

Die interdik is finaal gemaak op 4 Oktober 2018.

Galloway se advokaat, Mafaro, het tydens Woensdag se hofsaak gesê die klaagster wat hom laat arresteer het, se naam en van is nie duidelik genoeg op die interdik nie. “Slegs voorletters en vanne is op die interdik. Dit kan enigiemand se voorletter wees,” het hy gesê.

As gevolg van die onduidelikheid moet die ouma Vrydag, 15 Maart, tydens die hofsaak kom getuig. “Sy moet kom verifieer dat die persoon wat hom laat arresteer het, wel die persoon op die interdik is,” het  landdros Doll Mokoto gesê.

“My ma is baie gespanne en getraumatiseer oor die feit dat sy moet kom getuig en weer vir Hansie moet sien.” Die dogter vertel verder Galloway het al voorheen haar ma gedreig. “Sy is bang vir hom.”

Galloway se advokaat het Woensdag sy beëdigde verklaring voorgelees oor hoekom hy borg toegestaan met word. “Ek is ‘n goeie mens wat goed met mense oor die weg kom. Ek is nie ‘n gewelddadige mens nie.”

Galloway het verder gesê dat hy nie gesond is nie en dat hy nie ‘n vlugrisiko is nie. Hy het verduidelik die klaagster het hom slegs laat arresteer omdat sy weet hy nie skuldig bevind gaan word op die saak van seksuele aanranding teen hom nie. “Sy is op soek na enige rede om my toe te laat sluit.”

Die pa van vyf kinders het ook heelwat vorige oortredings teen hom, onder andere twee aanrandingsake met die doel om ernstig te beseer, beskadiging van eiendom en dronkbestuur. Hy het ook twee hangende sake vir bedrog en seksuele aanranding teen hom.

Galloway moet weer op 15 Maart in die hof verskyn vir die finalisering van sy borgaansoek oor die oortreding van die interdik.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief