Hansie Galloway in hegtenis

Lees ook :


Hansie Galloway, voormalige eienaar van die kuierplek, Shadows, in Kimberley, is Donderdag in hegtenis geneem.

Galloway, wat op 7 Maart in die landdroshof in Kimberley op aanklag van seksuele aanranding verskyn het, het na bewering ‘n interdik oortree.

Galloway staan tereg op aanklag van seksuele aanranding nadat dit aan die lig gekom het dat hy na bewering sy huidige vriendin se dogtertjie (9) in 2015 seksueel aangerand het. Die meisietjie was ten tye van die misdryf vier jaar oud.

Tydens die verskyning op 7 Maart het Galloway aanhoudend aanmerkings na die meisie se tannie, *Inge, wat die saak teen hom gemaak het, geslinger.

*Inge is tydens die hofverrigtinge na vore geroep deur advokaat Lalale om die meisie se ouderdom te kry. Dis toe dat die aanmerkings begin. Die advokaat het ook gevra dat die meisie en haar broer na die hof gebring moet word, omdat hulle getuies in die saak is.

“Sy is nie die kinders se voog nie,” het Galloway uit sy beurt in die hof gepraat.

Die twee kinders is tans in die sorg van hulle ouma.

Die meisie se ma is ook tydens die hofverrigtinge na vore geroep en gewaarsku omdat sy ‘n getuie in die saak is.

*Inge het die ma gevra om Galloway te vra om stil te bly en haar herinner dat sy ‘n interdik teen hom het.

Die ma, wat in dié stadium voor Galloway in die bank gesit het, het *Inge geïgnoreer. Adv. Lalale het Galloway se prokureur gevra om Galloway onder beheer te kry.

Nadat die hof op 7 Maart verdaag het, het *Inge en haar ma, wat hewig ontsteld was na Galloway se aanmerkings, na die seksuele misdrywe-afdeling geloop. Galloway het haar toe die woorde “t**f, ek gaan jou kry,” toegesnou.

Met hulle aankoms by die huis het *Inge die polisie gebel waarna die blitspatrollie na haar huis ontbied is. Nadat hulle die interdik deurgelees het, het hulle bevind dat Galloway sy interdik oortree het. Galloway is kort daarna by sy huis in hegtenis geneem. Volgens *Inge het hy geweier om sy samewerking te gee en moes die polisie versterkings inroep. 

Galloway het vandag in die hof verskyn, maar is borg geweier. Hy verskyn weer op 13 Maart vir ‘n formele borgaansoek.

*Inge het by die hof aan FiND iT gesê dat sy Vrydagaand teen 22:00 voor die televisie by haar huis gesit het, toe sy hoor hoe iemand aanhoudend voor haar huis ‘n motor se toeter druk.

“Ek het uitgeloop en twee mans in ‘n wit bakkie sien sit. Ek het vir hulle gevra om asseblief op te hou.”

*Inge vertel dat die twee mans, wat na haar mening na drank geruik het, haar begin skop en slaan het. ‘n Derde man het uit die bloute verskyn en haar ‘n paar keer geskop, waarna sy kon wegkom en in die huis inhardloop.

“Hierdie was net ‘n waarskuwing. As ons jou by die hof kry, maak ons jou dood,” was volgens Inge een van die mans se woorde aan haar tydens die aanranding.

*Inge het intussen ‘n saak by die polisie gemaak.

*Skuilname is gebruik om die identiteit van die kind te beskerm.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief