Hofsaak om kollege-klasse te begin tot April uitgestel

Lees ook :

’n Hofsaak om kollege-studente en voormalige dosente terug in die klas te kry, is tot Vrydag 12 April 2019 uitgestel.

Die hofsaak volg nadat die minister van onderwys, Naledi Pandor, en die ANC beide ’n taakspan saamgestel het wat lede van SASCO, NEHAWU, COSATU, SADTU en die departement van onderwys insluit om ’n oplossing te vind vir die studente en dosente van verskeie TVET-kolleges in Kimberley wat sedert Donderdag 14 Februarie 2019 in daaglikse protesaksies betrokke is.

Fikile Nthathu, die provinsiale sekretaris van SADTU in die Noord-Kaap, het studente buite die hof aangespreek en gevra om enige bewysstukke, wat die saak van die studente en dosente kan help, in te handig: “Moenie vir een oomblik dink enige informasie wat die saak kan help is onbelangrik nie; alle informasie is belangrik.”

Nthathu het die studente en dosente gevra om saam te staan en het gesê: “Hierdie is ’n delikate saak en beide die studente asook die dosente word verteenwoordig. Geen uitspraak is tot dusver gelewer nie en dit is nou die verantwoordelikheid van elkeen om die nodige bewysstukke aan ons regspan te oorhandig voordat die hofsaak in April hervat word. Daar is nog die moontlikheid vir ’n skikking buite die hof, maar ons moet voorbereid en gereed wees.”

’n Verteenwoordiger vir die studente het NEHAWU, SADTU en die ANCYL bedank vir hulle ondersteuning.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief