Hond deur Kaapse kobra gepik

Lees ook :

‘n Driejarige Duitse korthaar Pointer, Lyka, is Saterdagmiddag omstreeks 16:30 deur ‘n Kaapse kobra gebyt.

Hoe het dit gebeur

Beryl Wilson, Lyka se eienaar, vertel sy het die slang met die aankoms by haar huis, ‘n plaas net buite Kimberley, aangetref. Haar twee honde het toe alreeds die slang in ‘n hoek vasgekeer.

Wilson het die slang gevang waarna sy gaan kyk het of haar twee honde ongedeerd was. “Ek het besef Lyka is drie keer deur die slang gebyt – een keer op haar kop en twee keer aan die regterkant van haar gesig.”


“Ek is waarskynlik die voorste kenner van slange en slangbyt in die provinsie, wat gelukkig is vir my hond,” skerts Wilson, dierkundige en bewaringsbioloog by die McGregor-museum.

Lyka is verlede jaar twee keer deur ‘n pofadder gebyt. Danksy vinnige en korrekte behandeling het sy altwee kere oorleef .

Geen huismiddels werk nie

Wilson het besef Lyka se lewe is in gevaar en vermoed dat sy alreeds 15 minute voor sy by die huis aangekom het, gebyt is. “As jou dier deur ‘n slang, veral die kobra, gebyt word, is tyd krities. Jy moet so gou as moontlik by ‘n veearts uitkom,” beklemtoon sy.

Wilson maak dit ook duidelik daar is geen huismiddels wat ‘n hond kan help na ‘n slangbyt nie. “Ek besef ‘n veearts is duur, maar indien jy dit nie kan bekostig nie, neem vir jou hond ‘n maandelikse mediese plan uit sodat jy in sulke noodgevalle die hond kan veearts toe vat.”
Lyka is nog by die veearts en volgens Wilson sal sy binne die volgende 48 uur ontslaan word.

Veearts toe

Met Lyka se aankoms by die veearts was haar hartklop ongeveer 200+ bpm, sy het oormatige speeksel gehad en stelselmatig begin verswak. Sy het dadelik teengif ontvang. “Die Kaapse kobra se gif is baie sterk en dit tas jou neurologiese sisteem aan wat jou asemhaling vinnig kan beïnvloed,” verduidelik ‘n veearts in Kimberley.

Wilson vra dat inwoners van Kimberley vir die volgende paar maande meer waaksaam moet wees as gevolg van die laat somerreëns en warm begin van ons winter. “Kimberley-inwoners moet bewus wees van drie hoogs giftige slangspesies en dis belangrik dat hulle protokolle in plek het om onvoorsiene gevalle te hanteer.”

Volgens Wilson is die volgende drie slangspesies hoogs gevaarlik:

Pofadder

Die pofadder het ‘n sitotoksiese gif wat die weefsel om die bytgebied raak, wat lei tot ‘n potensiële verlies van die ledemaat as dit nie behandel word nie.

Kobra

Kobras het ‘n neurotoksiese gif wat al die spiere affekteer, en veral dié wat asemhaling en die hart beheer. Beide hierdie spesies se pik word behandel met dieselfde teenmiddel wat by plaaslike hospitale en veeartsenykundige klinieke gehou word

Boomslang

Boomslange het ‘n hemotoksiese gif wat die bloed aanval en voorkom dat bloed kan stol. Behalwe bloeding van ‘n bytplek aan die mond, tandvleis, oë, ore ens., kan die lewer en milt beskadig word en kan selfs die longe met bloed gevul wees.

Lyka verbeter

Lyka was teen gister wakker en het sy semi gereageer. Sy kan haar kop lig en haar stert waai, maar kan nog nie loop nie. Sy is steeds aan ‘n drup gekoppel, aangesien sy nie natuurlik eet of drink nie. Sy kon egter nie veel meer doen as om haar kop te lig nie en sy was baie sensitief vir enige vorm van geluide.


Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App