Rohde (50), wat 20 jaar effektiewe tronkstraf opgelê is vir die moord op sy vrou Susan Rohde, se regspan het Dinsdag hul aansoek om verlof tot appel by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.
Die aansoek is om verlof te kry van regter Gayaat Salie-Hlophe om teen haar uitspraak en vonnis te appelleer.
Rohde se regspan sê die hof het sy vonnis op ‘n “onaanvaarbare en onregterlike” wyse benader. In die aansoek word ook aangevoer Desmond Daniels, die nutsman, en Mark Thompson, ‘n oud-kollega, kan nie as geloofwaardige getuies gesien word nie.
Luidens die aansoek is Rohde se vonnis onregverdigbaar swaar en die uitwerking daarvan is om hom onvermydelik te breek. Daar is ook nie behoorlike oorweging gegee aan versagtende omstandighede nie.
Hulle beweer ook dat Rohde se reg tot ‘n billike verhoor grof geskend is toe daar beveel is dat hy in hegtenis geneem word. Rohde was toe ‘n pasiënt in ‘n psigiatriese kliniek weens depressie.
Rohde ontken dat hy sy vrou in Julie 2016 vermoor het. Susan se lyk is in die egpaar se hotelkamer in die Spier-hotel buite Stellenbosch gevind. Hy het aangevoer dat sy haarself met die koord van haar haartang agter die badkamerdeur gehang het.
Rohde was die gewese uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty Suid-Afrika. Hy en Susan was ten tye van die voorval by die maatskappy se jaarlikse konferensie.
Salie-Hlope het nie Rohde se storie geglo nie. Hy is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis met ‘n bykomende vyf jaar weens regsverydeling .
Die hof het bevind dat hy haar verwurg of met ‘n kussing versmoor het. Die hof beweer hy het haar lyk na die badkamer gesleep om dit te laat lyk of sy haar eie lewe geneem het.
‘n Datum vir die verhoor moet nog bevestig word.
Die egpaar het drie dogters.