Jong entrepreneur vir SARIE top 40 gekies

Lees ook :

Helé Wansbury (19) van Kimberley, eienaar van haar eie klerereeks, is aangewys as een van die top 40 semi-finaliste vir SARIE se Voorbladgesig van die Jaar-kompetisie.

Helé is die eienaar van Fitbury Clothing en Avanté Clothing.

Sy sê dit voel steeds onwerklik dat sy met haar eerste deelname aan SARIE se voorbladgesigkompetisie uit duisende vrouens gekies is.

“Ek voel regtig geëerd. Juffrou Sandra Wessels, onderwyseres van Hoerskool Diamantveld, wou my altyd vir hierdie kompetisie inskryf, maar ek was nog op skool. Ek wou toe in 2018 inskryf, maar dit was ’n besige jaar vir my. Dit was my eerste jaar na skool en my eerste jaar van ma wees.”

Hoe dit werk

“Daar is nie regtig enige voorbereiding wat gedoen moet word om in te skryf nie. Ek moes net foto’s instuur. Ek het ook seker gemaak ek weet wie en wat ek is, waarvoor ek staan en wat ek hierdeur wil bereik vóór ek ingeskryf het.”

Die beoordelaars het 36 semi-finaliste gekies en vier is op grond van die meeste stemme op voorbladgesig.sarie.com gekies. Hulle verskyn in SARIE se Julie-uitgawe.

Uit dié 40 semi-finaliste kies die beoordelaars 10 finaliste wat in ware SARIE-voorbladstyl afgeneem gaan word en in die September-uitgawe gaan verskyn. Daarna kan lesers op SARIE se SMS-lyn en aanlyn vir hulle gunstelinge stem. Die wenner verskyn op SARIE se Oktober-voorblad, wat die gróót prys is, sê Helé.

Boodskap aan alle vrouens

Sy sê vrouens moet verander waarmee hulle nie tevrede is nie en nie hulleself onderskat nie, want ’n mens is in staat tot enigiets. “Jy moet jouself inspireer. Jy moet jou meer steur aan wat jy van jouself dink as aan wat ander dalk van jou mag dink. Alles gebeur om ’n rede en ná elke terugslag wag ’n geleentheid!”

Wat ek wil bereik hierdeur

Sy wil jong meisies en vroue leer om tevrede te wees met wie en wat hulle is, hulleself te inspireer en in hulle vermoëns te glo. Sy wil hulle wys dat niks wat met jou gebeur het in die pad mag staan van jou drome en planne nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App