KIMBERLEY. – Nelson Frasenburg (23) is sedert 22 Junie 2019 vermis. Hy woon in Beaconsfield en is laas gesien in ’n swart broek, blou baadjie en swart Solomon-tekkies.
Wettige voog
Magrieta Galant, sy wettige voog, het hom twee dae later as vermis aangemeld toe hy nie huis toe gekom het nie. “Beide Nelson se ouers is oorlede en woon al vir tien jaar by ons,” sê Lilly Galant, Magrieta se dogter.
Vriende
“Hy is gedurig in die parkies omdat een van sy vriende van die kinderhuis, Johnny, daar karre was vir ’n inkomste. Hy het geen ander heenkome nie.” Die polisie het saam met haar ma na die parkies gegaan om hom te soek, maar hulle kon hom nie kry nie, sê Lilly.
Sy sê hy slaap nooit meer as een aand weg van die huis nie. “Hy gaan uit saam met sy vriende en slaap soms een aand nie by die huis nie, maar het nog nooit langer as dit weggebly nie.
Laas gesien
“Hy is glo daardie Saterdagmiddag laas in Queenspark saam met Johnny en ander straatkinders gesien,” sê sy.
Gesondheid
Volgens Lilly het Nelson nie ’n werk nie en studeer ook nie. “Hy is vanaf geboorte op antiretrovirale medikasie en sukkel met sy gesondheid.”
Indien enigiemand hom gesien het of weet waar hy hom bevind, kontak asseblief vir Lilly by 074 835 9539 of 084 984 9677.