’n Gesin van Diskobolos was Dinsdagmiddag behoorlik histeries toe ’n Kaapse kobra ongenooid by hulle voordeur opgedaag het.
Natasha Marx sê sy het net op die bank gaan sit toe hulle hondjie, ’n worsie gekruis met ‘n miniatuur Dobermann, vreeslik te kere gaan. “Ek het die voordeur oopgemaak en sien toe die slang regop staan by die deur,” vertel Natasha, wat in daardie stadium nog nie geweet het met watse giftige slang sy te doen het nie. Met dié het die slang in die huis ingeseil met hulle hondjie agterna.
Natasha sê sy het kamer toe gehardloop met haar histeriese sesjarige saam met haar. “Ek wou my man, Stephansen, bel sodat hy iemand kon reël om die slang te verwyder. Maar soos wat die noodlot dit wou hê, wou my foon nie in daardie stadium uitbel nie,” verduidelik Natasha. Hulle is toe uit die huis uit, waar sy aan haar man en mense wat naby hulle bly ’n Whatsapp-boodskap gestuur het om te kom help. “Ek was bekommerd omdat my hondjie saam met die slang in die huis was.”
Dawie en Ryno Griesel, beide gekwalifiseerd om slange te verwyder, is deur Stephansen gekontak. “Hulle was baie vinnig hier by ons om te kom help,” vertel Natasha beïndruk. “En my hondjie kan ’n medalje kry vir sy braafheid.”
Ryno het die Kaapse kobra onder Natasha se sitkamerbank uit verwyder om veilig vrygelaat te word buite Kimberley.
Vir die verwydering van enige slange, kontak vir Dawie by 084 240 6353 of Ryno by 083 444 8003.