Tharin Grobler (20) het in 2018 die Royal International Miss International Role Model-skoonheidskompetisie gewen in die afdeling skoonheid saam met liefdadigheid.
Besoek hospitale
Een van Tharin se take as draer van hierdie titel is om ’n liefdadigheids-organisasie of projek te begin. Tharin se hart lê by ma’s en kinders en daarom besoek sy gereeld hospitale waar sy vir ma’s wat pas geboorte geskenk het sakke vat. “Hierdie sakke bevat ‘n waslap, sepies, klere vir die pasgebore babas, tandeborsel, tandepasta en goedjies vir die nuwe mamma,” vertel Tharin.
Besoek kinderhuise
Tharin is al vir nege jaar lank ’n vrywilliger by die Bophelo House of Safety. Sy gee ook by verskillende kinderhuise sakkies af vir die kinders. “Die sakkies het klere in, ‘n tandeborsel, tandepasta, sepie, speelding, ens.” verduidelik Tharin.
Gee alles uit haar eie sak
Hierdie jong vrou met die sagte hart sê sy betaal op die oomblik alles uit haar sak uit. “Borge is maar moeilik in die stadium te kry.”
Liefde vir kinders
Tharin, wat ’n geweldige liefde het vir kinders, het in 2018 begin studeer vir ’n maatskaplike werker met sielkunde as haar hoofvak. “Ek het met my werk by die kinderhuis besef dat dit die rigting is wat ek wil volg. Modelwerk is ’n lekker platform, maar kinders is my passie,” sê Tharin. Haar grootse droom is om eendag ’n huis te stig vir ma’s en kinders, ma’s wat mishandel is en dalk nie vir hulle pasgebore babas kan sorg nie, maar wat hulle nie wil weggee nie.
Vakansie na Mexico
As deel van Tharin se wenprys het sy ’n vakansie na Mexico gewen. Haar ma, Hetta, gaan saam haar op hierdie avontuur. “Ek is gegom aan my ma,” lag sy. Die ander vrouens wat die ander afdelings gewen het, gaan ook saam met Tharin. Hulle vertrek die 25ste Februarie.
Indien jy ’n bydrae wil maak tot Tharin se liefdadigheidsprojek, kan jy haar kontak by 071 302 5941.