Theané Willemse (13) ‘n jong model van Kimberley, is gisteraand as die algehele wenner by die International Television Contest Festival in Egipte, gekroon.
Die kompetisie het vanaf 22 tot 28 Maart plaasgevind. Die grootse doel van die kompetisie was dat Theané haar land moes gaan verteenwoordig.
Theané het nie net as algehele wenner weggestap nie, sy het ook die volgende titels gewen. Sy is gekroon vir haar skoonheid, bes geklede model in al haar uitrustings, beste danser asook algehele wenner in die talent afdeling.
Net voor Theané en haar gesin op 15 Maart na Egipte vertrek het, het haar ma, Sunette in ‘n onderhoud aan FiND iT vertel dat Theané vier uitrustings tydens die kompetisie moet dra.
“By elke uitrusting wat sy gedra het, moes haar “houding” op die loopplank by haar uitrusting pas. Sy het moderne dans gedoen tydens die talent-afdeling, waar elke deelnemer ‘n talent moet wys,” vertel Sunette
Carmen Couture, een van Kimberley se ontwerpers, het al Theané se uitrustings insluitende haar “showstopper” gemaak. Diè rok was so gemaak dat dit die landvalg sal uitbeeld.
Theané, ‘n gr.8-leerder van Hoërskool Diamantveld, is vir die afgelope jaar al deel van Jean-Marie Spicer se modelskool Vogue, in Kimberley.
“Ons as Vogue modelskool in Kimberley is vreeslik trots op Theanè. Sy het die vrugte gepluk van al haar harde werk, lang ure se oefening en baie trane. Niks sou moontlik gewees het sonder ons Hemelse Vader wat vir ons die leiding en krag gegee het nie” sê Jeanmarie
Theanè is uitgenooi om later vanjaar deel te gaan neem aan Miss Planet.