Kry jou baba genoeg melk?

Lees ook :

Om te borsvoed is nie soos bottel gee waar jy kan meet hoeveel jou baba drink nie.

Ma’s wat borsvoed is egter altyd bekommerd of die hoeveelheid melk wat hulle babas drink genoeg is en voedsaam genoeg is. “Vir ’n hele jaar lank was ek baie bekommerd oor my melk en of Cayden genoeg melk kry,” sê  Cassandra Erasmus.

Hoe sal ’n ma weet of haar baba genoeg melk kry?

Baba se gewig

Dit is beslis ’n goeie teken as jou baba gewig aansit. Volgens Breastfeedinginc is die “reëls” vir bors-babas anders as dié vir bottel-babas. Skale is ook nie dieselfde nie. ’n Baba wat met ’n swaar, nat doek geweeg word, kan meer weeg as ’n baba wat nie ’n doek aanhet nie.

Volgens die World Health Organisation (WHO) moet ’n baba tussen 120g en 400g per week optel, met ’n gemiddeld van 250g per week in die eerste ses weke. Vanaf vier maande eers tel hulle stadiger gewig op. Jou baba sal aktief wees, gesond voorkom, ‘n ferm vel met goeie kleur hê en sal in die lengte groei.

Doeke

Vir die eerste paar dae na geboorte is die baba se stoelgang donker, amper swart en word meconium genoem. Daarna word die stoelgang ligter soos wat die baba meer melk drink. Bors-babas se doeke kan waterig en mosterdkleurig wees en het gewoonlik geen reuk nie. Dit kan oranjekleurig en selfs groen wees, maar dit beteken nie daar is fout nie. ’n Baba kan in die eerste ses weke na geboorte twee tot vyf soliede doeke per dag hê en vyf tot ses nat doeke per dag.

Borsvoed

’n Baba wat ’n goeie hoeveelheid borsmelk kry, suig op ’n spesifieke manier aan die bors. Hulle monde moet wyd oop wees en hulle lippies draai na buite terwyl hulle aan die bors suig. ’n Baba suig kort en herhaaldelik aan die begin van ‘n voeding. Jy behoort jou baba te hoor sluk.

Moenie so besluit jy het nie genoeg melk nie

  • Jou borste wat nie vol voel nie
  • Jy kry amper niks uit wanneer jy uitpomp nie
  • Jou baba huil na voeding
  • Jou baba drink gereeld en vir lang tye

Moenie alleen twyfel nie

As jy enige twyfel het oor jou melkproduksie en bekommerd is of jou baba genoeg melk kry, moenie alleen daarmee worstel nie. Kry so gou moontlik hulp, soos van ’n internasionaal-gesertifiseerde borsvoedingskonsultant soos La Leche League Leader, of by ’n ma met jare se ondervinding van borsvoeding.

Skrywer

Skrywer-biografie: Juanne Cronjé is ’n skrywer en ma van twee. Sy is passievol oor ouerskap en lees gereeld op oor verskillende onderwerpe.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App