Dr. Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap, het tydens die eerste dag van die ANC-lekgotla by Horseshoe Inn gesê beamptes gaan baie harder moet werk om vertroue in die regerende party in die provinsie te herstel.
Al die LUR’e vir die Noord-Kaapprovinsie, die ANC-jeugliga, sowel as burgemeesters, munisipale bestuurders en woordvoerders van elke munisipaliteit in die provinsie was hier teenwoordig.
Saul sê: “15 Parlementslede is van die Noord-Kaap-provinsie afkomstig, 66.67% (10) van hulle is vroue. Die ANC het algeheel 7% van sy stemme teenoor die vorige verkiesing in 2014 verloor. Daarom gaan ons baie hard moet werk om dinge om te draai. As ons dit nie regkry nie, gaan ons die provinsie teen die volgende verkiesing aan die opposisie oorhandig.”
Voorts sê hy: “Die status-quo-mentaliteit kom nou tot ’n einde. Ons gaan voorts nie die huidige koers van groei as ’n riglyn gebruik nie. Ons mikpunt is om baie beter te doen. Waar ons voorheen die 7de provinsie in Suid-Afrika was en gemik het om 6de plek te behaal gaan ons moet mik om 3de te wees om werklik vooruit te gaan.”
Armoede, werkloosheid en ongelykheid moet aangespreek word
“Die werkloosheidsyfer in die Noord-Kaap staan tans op meer as 26%, terwyl 60% van hulle jeugdiges is,” verduidelik Saul.
Voorts sê hy: “Daar sal ook geweldig gesny moet word aan onnodige uitgawes. Hoekom moet daar daagliks ’n bak vars vrugte by die premierskantoor uitgestal word, wanneer ek vir myself vrugte kan koop? Luidens die handboek van die ministerie gaan ons moet strewe om met minimale benodigdhede oor die weg te kom. Tans versoek beamptes dat hulle voertuie op 120 000 km vir veiligheidredes vervang word, dit terwyl die mense wat vir ons gestem het in ambulanse moet ry met meer as 952 000 km op die klok.”
“Ons gaan elke punt van die ANC-manifes noukeurig moet implimenteer om armoede, werkloosheid en ongelykheid in die provinsie te beveg. Ons sal ook die struktuur van die regering in die provinsie moet versterk om dit moontlik te kan maak.”
Begroting vir provinsie geweldig afgeskaal
“Daar word ook gepraat van ’n begroting van R12 biljoen wat vir die vorige finansiële jaar toegestaan was. Ons begroting vir hierdie finansiële jaar is slegs R11 miljoen, terwyl skuld R3 biljoen beloop waarvan R1.7 biljoen verskuldig is aan plaaslike kleinsake-ondernemings vir dienste wat reeds gelewer is.”
Sol Plaatje-munisipaliteit moet kleiner munisipaliteite bystaan
“Sol Plaatje-munisipaliteit moet die voorbeeld munispaliteit wees waarna kleiner munisipaliteite in die provinsie moet kan strewe. Die kleiner munisipaliteite moet dus nie huiwer om Sol Plaatje te nader wanneer hulle miskien masjinerie of die stadsingenieur vir ’n paar dae benodig nie,” sluit Saul af.