Louis Meades (46), wat vir poging tot moord, ontvoering en die oortreding van ’n gesinsgeweldbevel tereg staan, bly die naweek in aanhouding.
Meades het gister, met dieselfde geel hemp waarmee hy op 23 Januarie vanjaar in hegtenis geneem is, in die Kimberley-landdroshof verskyn. Hy het na bewering sy vriendin aangerand, probeer ontvoer en probeer omry.
Vrees vir haar lewe
Luidens die verklaring van Sue-Marie Kramer, Meades se vriendin, vrees sy vir haar lewe. “Hy is ’n gevaarlike mens as hy kwaad raak en niemand kan hom stop nie. Ek het nooit geweet wanneer hy weer gaan ontplof nie. Ek weet ook nie hoe kwaad hy gaan wees as hy uit aanhouding sal kom nie. Hy het gewaarsku hy gaan my laat doodmaak. Ek beter oor my skouer kyk. Hy het al op Facebook gevra hy wil weet waar ek is en sal R2000 betaal. Hy weet nie nou waar ek is nie.” Kramer vertel verder hy het haar probeer doodmaak deur haar om te ry. “As hy sou uitkom, sal ek nie weer so gelukkig wees nie.”
Rand sy ma aan
Kramer het luidens haar verklaring ook gesê sy vrees wat hy aan sy ma sal doen. “Sy lê in die hospitaal (op die datum wat die verklaring afgeneem is) nadat hy haar aangerand het.” Meades se ma het die hofverrigtinge gister bygewoon.
Sy hardloop eers na vierde keer
Adv. Clarke, wat vir Meades optree, sê die verdediging het nog nie die dossier gesien nie. “Ons het gedink hy is aangekla vir poging tot moord, saakbeskadiging en die verbreuk van ’n gesinsgeweldbevel.”
Clarke sê die gesinsgeweldbevel is eers ná die beweerde aanranding ingestel en daarom was daar geen verbreking van dié bevel nie. “Dit gaan ook my verstand te bowe dat hy aangekla word vir poging tot moord omdat hy haar probeer omry het. Hy het haar vier keer probeer omry? Sy het eers die vierde keer weggehardloop in die veld in… Dis onwaarskynlik dat sy net daar sou staan in die pad as hy haar probeer omry. Later dan klim sy weer in die kar. Nadat hy haar wou doodmaak, klim sy weer in die kar, waar sy sê sy toe weer aangerand is.”
Geen bewyse vir aanname
Clarke sê volgens Kramer groei Meades se dreigemente soos wat sy by haar verklaring byvoeg. Sy sê ook dit sal nie die eerste keer wees wat hy doodmaak nie, maar daar is geen bewyse vir so ’n aanname nie.
Landdros D. Mokoto het die versoek dat Meades spesiale behandeling ontvang omdat hy “siek” is, met respek van die hand gewys. Sy het gesê elke verhoorafwagtende moet dieselfde hanteer word en dat sy baie hoor mense is siek. “Ek is allergies vir die lug in die tronk,” het sy as voorbeeld genoem. “Ek doen dit nie om onmenslik te wees nie. Maar die omstandighede by die aanhoudingselle is nie daar om iemand vir lank aan te hou nie. Dit is vir verhoorafwagtendes. Ek kan slegs voorstel dat hy by die mediese afdeling gehou word.”
Meades moet op 13 Februarie om 08:30 by B-hof wees vir borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding.
Lees die vorige artikels hier: