KIMBERLEY. – Die LUR van onderwys, McCollen Jack, het Vrydag aan 240 onderwysers skootrekenaars, gelaai met die Edukite-programme, oorhandig.
In sy toespraak het hy gesê die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, het hom in Mei 2019 daartoe verbind om die Noord-Kaap ‘n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie te maak.
“Een van die kritieke aspekte van die Noord-Kaapse onderwysdepartement (NCDoE) is die prioritisering van gehalte-onderwys om te verseker dat die provinsie aan die voorpunt van die vierde revolusie bly.
In reaksie op die premier se visie vir die Noord-Kaap, het die NCDoE hardeware en sagteware vir Wiskunde en Fisiese Wetenskappe vir graad 12 en Natuurwetenskap vir graad 9 aangeskaf om begrip en uitdrukking van die vakinhoud te verryk. Die voorsiening en gebruik van hierdie Edukite-hulpbron sal ‘n waardevolle platform bied vir opvoeders om inhoudskennis en klaskamer-pedagogiek te versterk en uiteindelik die leerders se begrip, van veral abstrakte en problematiese inhoud, te stimuleer en te verbeter.
Geïdentifiseerde opvoeders ontvang ‘n skootrekenaar gelaai met digitale CAPS-belynde kurrikuluminhoud in die vorm van multimedia 2D- en 3D-animasies, interaktiewe simulasies, virtuele eksperimente, assesserings, geleenthede vir voorafleer en konsolidering van die betrokke vak.”
Besin oor die suksesse van Edukite
“Met die bekendstelling van Edukite in Lewenswetenskappe in 2016 het die prestasies van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) in hierdie vak verbeter van posisie 9 na posisie 6 in die land. Die vakslaagsyfer het ook verbeter met ‘n beduidende 11%. Prestasie in Geografie het ook in 2017 verbeter, wat die provinsie na nommer 3 in die land geneem het met ‘n slaagsyfer van 85,9%.
Die volgende is enkele ervarings en opmerkings van Lewenswetenskappe, Geografie-opvoeders wat tydens die daaglikse onderrig van die Edukite-sagteware gebruik maak:
• “Edukite maak my lesse interessanter”
• “Edukite maak my lesse meer uiteenlopend”
• “Edukite het die aanbieding van materiaal vir my lesse verbeter”
• “Edukite gee my meer vertroue”
• “Edukite maak die lesse lekkerder”.
Ons verwagting as departement met die uitbreiding van Edukite is dat dit:
• onmiddellike ondersteuning aan beginneropvoeders bied;
• verhoogde leerderuitkomste in problematiese vakke bring;
• vertroue van opvoeders verhoog;
• variasie van pedagogiek in die klaskamer gee;
• geleenthede om gemengde leer bekend te stel.
“Ten slotte is ons as ‘n departement opgewonde oor die nuwe era wat ons betree, wat tegnologie behels om die klaskamerervaring vir leerders sowel as onderwys te verbeter,” sê die LUR.”