VRYSTAAT. – ‘n Egpaar van Ficksburg is Woensdagaand deur ses gewapende mans in hulle huis aangeval. Die Ficksburg-polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord.
Volgens sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het die voorval kort ná 20:00 plaasgevind. Polisiebeamptes wat op patrollie was, het ‘n noodoproep ontvang en met aankoms by die huis is die liggaam van die buitelandse man (39) in die erf aangetref. Hy het twee skietwonde, een in die maag en die ander in die linkerdy, opgedoen en is dood verklaar. Sy vrou, wat met die kolf van ‘n pistool geslaan is, is met ’n wond aan die voorkop na ’n hospitaal geneem.
Volgens inligting was die egpaar in die huis toe die vermomde verdagtes deur die eetkamerdeur ingekom het. Twee van hulle het vuurwapens op die egpaar gerig en geld geëis. Toe die man sê hy het geen kontant nie, het een van die aanvallers op hom geskiet. Hulle het daarna die huis geplunder.
Die egpaar het daarin geslaag om na buite te vlug en om hulp te roep, maar die man het in die erf ineengestort. Sy vrou het haar swaer gekontak, wat die polisie en ’n ambulans ontbied het.
Die polisie sê die motief vir die aanval word steeds ondersoek.





