Die polisie verwelkom die vonnis wat onlangs aan Meshack Marumo (35) in die Kuruman-streekshof opgelê is.
10 jaar agter tralies
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die beskuldigde is aanvanklik aangekla van verkragting, maar is op 11 April 2019 in die Kuruman-streekhof skuldig bevind vir poging tot verkragting en is 10 jaar tronkstraf opgelê.
11-jarige slagoffer
Op 2 Julie 2016, omstreeks 17:00, was die 11-jarige vroulike slagoffer op pad huis toe van die winkel toe sy deur n onbekende man in die Seven Miles Village, naby Mothibistad, aangeval is. Luidens die persverklaring het Marumo haar in ‘n nabygeleë toilet ingesleep en het probeer om haar te verkrag. Die slagoffer het teruggeveg en geskreeu en is uiteindelik deur ‘n verbyganger gehelp. Marumo is op dieselfde dag met die hulp van die gemeenskap in hegtenis geneem.
Prys vir goeie werk
“Maj. genl. Johan Bean prys sers. Tebogo Nowalaza van die Kuruman SAPS se afdeling vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe vir die goeie werk wat gedoen is. Hy het ook die gemeenskap bedank vir hul hulp in hierdie verband. “Dit is vennootskapspolisiëring op sy beste,” sê kapt. Sergio Kock.