Louis Meades (46), wat vir poging tot moord, ontvoering en die oortreding van ’n gesinsgeweldbevel tereg staan, het Dinsdag weer in die Kimberley-landdroshof op aansoek om borg verskyn.
Meades is op 23 Januarie in hegtenis geneem nadat hy sy vriendin, Sue-Marie Kramer, na bewering aangerand, probeer ontvoer en probeer omry het.
Getuie praat
Celeste Louw, president van Optimystic Bikers Against Abuse, ’n organisasie wat mishandelde vroue ondersteun, het haar getuienis gelewer. “Sue-Marie was bang nadat sy ‘n inskrywing van Louis op Facebook gesien het.” Op die inskrywing het hy gesê: “Ek bied ’n R2000 beloning vir die een wat vir my kan sê waar is Sue-Marie’.” Louw het ’n uitgedrukte skermskoot van hierdie boodskap aan die aanklaer gewys.
Kry blomme en nota
Die aanklaer sê in die hof dat daar op 28 Januarie blomme, ’n SIM-kaart en ’n nota by Kramer se huis afgelewer is. Die nota lees: “Hi, ek is jammer. Ek is baie lief vir jou. Ek sal enige iets vir jou doen. xxx”
Meades het aan sy advokaat (Clarke) in die hof ontken dat dit hy was en beweer dit is nie sy handskrif op die nota wat Clarke daar vir hom gewys het nie.
Kry beskermingsbevel
Kramer het op dieselfde dag as wat sy die nota gekry het ook ’n beskermingsbevel teen die beskuldigde gekry. Volgens Louw het ander vrouens vantevore ook beskermingsbevele teen Meades gekry.
Ma betaal vir prokureur
Louw het ook aangevoer dat Meades se ma, Sherley Meades, Kramer aangemoedig het om ’n prokureur te gaan sien en daarvoor betaal het. Sherley, wat nog elke hofverskyning van haar seun bygewoon het, het net haar kop hierop geskud voordat sy die trane uit haar oë gevee het.
Lewe weer in gevaar
Die aanklaer wou weet of Kramer terug is by die werk en terug is by haar huis. “Sue-Marie is terug by die werk. Ons probeer om die nodige veiligheidsmaatreëls vir haar te tref, maar dit is nie moontlik op die lange duur nie,” sê Louw.
Die aanklaer wou ook weet of die slagoffer weer terug is by die huis. Louw wou eers nie hierop antwoord nie, omdat dit die slagoffer se lewe in gevaar kan stel. “Sy is terug, maar na vandag sal sy nie weer teruggaan nie,” sê Louw.
Dit was nie so erg nie
Adv. Clarke beskuldig Louw daarvan dat sy die oorsaak is dat die Kramer so ver gegaan het om ’n beskermingsbevel te kry. “Dit was ’n gewone stryery tussen geliefdes, maar jy het dit verander na gesinsgeweld,” sê Clarke.
Die saak is tot môre uitgestel. Meades bly in aanhouding.