’n Pa in die tronk

As jou pa tronkstraf uitdien, verander dit jou lewe drasties. Hy is nie daar vir spesiale geleenthede nie. Die gemis raak nie minder nie – en die wete dat hy net om die draai in ’n sel sit bly op jou gewete. ’n FiND iT-leser (28) vertel van haar...

Foto: Verskaf

As jou pa tronkstraf uitdien, verander dit jou lewe drasties. Hy is nie daar vir spesiale geleenthede nie. Die gemis raak nie minder nie – en die wete dat hy net om die draai in ’n sel sit bly op jou gewete. ’n FiND iT-leser (28) vertel van haar ervaring voor en na haar pa vyf jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie gevonnis is. Haar boetie (24) is ook destyds aangekla, maar onskuldig bevind. Sy het nog twee sussies en haar ma, wat saam met haar deur die ervaring gegaan het.

*Alhoewel dié saak groot media-aandag getrek het, verkies sy om nie weer haar naam bekend te maak nie, om haar gesin te beskerm.

Hoor oor radio

Haar pa is in 2011 aangekla. Hy was ’n politieke figuur en baie in die media. “Ek was tydens die klopjag destyds by die huis, maar hy is later, nadat die polisie weg is, in hegtenis geneem. Ek het op OFM gehoor hy is hegtenis geneem. Daar het net 10 minute verstrek vandat hy in hegtenis geneem is, totdat dit uitgesaai is.”

Ontaard in media-sirkus

Sy vertel dit is die tipe ding wat op televisie gebeur of waarvan jy net lees. “Dit was onwerklik. Dit het soos ’n siek grap of ’n nagmerrie gevoel. Ek was 20 jaar oud toe dit gebeur het. Dit het ontaard in ’n media-sirkus. Opskrifte op lamppale, hoofnuus in koerante, selfs op televisie. Om jou familie so onder bespreking in die media te sien, is regtig ’n bitter pil om te sluk. Mens maak vrede daarmee dat hulle voel dis nuuswaardig. Ek het gesukkel om te aanvaar hoeveel feite verdraai is, hoeveel van die stories niks anders as leuens was nie en hoe besonderhede soos ons woonadres gepubliseer is. Dit was asof ek bietjie van my identiteit verloor het. Van daar af was my prestasies en loopbaan vergete. Ek was bloot gebrandmerk as die ‘misdadiger se dogter’.”

Absoluut magteloos

Die hofsaak voordat haar pa skuldig bevind is, het vyf jaar lank geduur. “Jy kies om jouself bloot te stel deur die verhoor by te woon, maar om daar te wees en te hoor wat gesê word, is beter as om by die huis of kantoor te sit en wonder wat aangaan. Daar is soveel bepalende feite wat net eenkant toe geskuif is. Dinge wat die prentjie geskets het wat aansienlik kon verander. Jy is absoluut magteloos. Niks wat jy doen kan die waarheid by almal tuisbring nie. Om te cope, sit jy jou emosies eenkant toe, sit en luister met ’n bot uitdrukking op jou gesig, gaan huis toe, huil en gaan aan. As ek elke dag in voeling met my emosies moes wees, sou ek ’n wrak wees. Dis definitief nie die beste manier om iets te verwerk nie, maar jy doen wat nodig is.”

Berei voor vir tronkstraf

Nadat haar pa op die Vrydag gevonnis is, het hy drie nagte by die huis gehad voordat hy by die Tswelopele-tronk in Kimberley moes aanmeld.

“Almal het op hulle eie hul emosies probeer verwerk en probeer om die laaste drie aande as gesin onder een dak so ‘normaal’ as moontlik te laat voel. Ek het deur die nag tientalle lysies gemaak van wat voor die Maandag gedoen moet word, wie gebel moet word, wat gereël moet word, ’n lys van kontaknommers wat my pa kon inpak ens. Dit het my in beheer laat voel van dit wat besig is om te gebeur, alhoewel ek geweet het my lysies gaan geen verskil aan die situasie maak nie. Dit was bloot iets om te doen, in plaas van om in ’n bondeltjie te lê en huil. Ek het die Maandag saam gegaan hof toe en het hom by die hof se aanhouding-selle gegroet.”

Mis baie in jou lewe

Daar was verskeie gebeurtenisse in haar lewe wat haar pa gemis het, soos bv. haar troue. “Jy verlang, jy wens hy was daar, probeer om van die skuldgevoel ontslae te raak wanneer jy iets ‘te veel’ geniet en sluk maar jou trane – dis immers al wat jy kan doen.”

Sy vertel sy sal nooit regte troufoto’s saam met haar pa hê nie en sal nooit kan vertel hoe haar pa haar by die kerk se deur ingewag het nie. “Ek sal nooit die pa-en-dogter-dans hê wat ek oor gedroom het nie en my pa sal nooit kan lag en saampraat oor dit wat op my troudag gebeur het nie. Dit was my en my man se keuse om voort te gaan met ons trou-reëlings, al het ons geweet daar is dalk net ’n 1% kans dat hy daar sou kon wees. Soveel mense sê vir my ek kan nie kwaad wees omdat hy nie daar was nie, ek kon immers die troue uitgestel het. Dit is verseker waar, ja, maar dit sou baie onregverdig teenoor my man wees om vir hom te sê dat ons troue onbepaald uitgestel word totdat ons weet wanneer my pa vrygelaat word. Ons kon ook in die hof trou en later wanneer my pa by die huis is ’n groot onthaal hou vir ons familie en vriende, maar dit sou mosterd na die maal wees. Ek moes kies hoeveel mag dié onregverdigheid van ’n pa in die tronk oor ons lewens het – ek het gekies dat dit nie my lewe en my geluk bepaal nie.”

Min tyd vir kuier

Om vir iemand in die tronk te gaan kuier, is moeilik. Soms het sy haar pa net een keer in drie maande gesien, nadat sy uit Kimberley getrek het. Die telefoniese oproepe is kort en dis moeilik om alles te gesels in ’n uur se besoektyd. “Die feit dat ons saam gehoop, gebid en uitgesien het na die dag wat hy weer by die huis kon wees, het ons verhouding sterk gehou. Al het dit somtyds onmoontlik gelyk om vir hom van alles te vertel wat in ons lewens aangaan, het ek nooit opgegee of ophou probeer nie.”

Haar pa was deurgaans baie positief en het probeer fokus op die dinge wat goed is in die lewe. “Hy het nooit gekla nie en nooit moed opgegee nie. “Ons het net voor Kersfees sy parooldatum gekry – dit was werklik die grootste geskenk waarvoor ons kon vra! Om slapies te kon aftel was klaar soveel beter. Vandat hy uit die tronk is, besef ons nog gedurig hoeveel gebeur het en hoeveel verander het, maar om weer saam met hom aan tafel te kan sit, saam televisie te kyk of om sy stem in die gang te hoor voel glad nie vreemd nie – dit voel reg. Dit voel weer soos die goeie ou dae.”

Spandeer jou tyd reg

Deesdae leef sy vir die kosbaarheid van doodgewone oomblikke. “Ek het geleer om minder tyd te spandeer aan onbenullighede en meer aandag te gee aan my verhoudings met familie en vriende. Ek vra myself altyd af, gaan dit waaraan ek nou aandag gee my ondersteun deur die moeilike tye, of is dit juis die tipe goed wat die potensiaal het om probleme in my lewe te veroorsaak? Ek weier om moed op te gee met ons land, maak nie saak hoe sleg dit gaan nie. Hier is baie probleme, maar as ons saamstaan kan ons ’n verskil maak. Ek fokus op die positiewe dinge en kry altyd daardeur nuwe hoop.”

Media is kragtig

Oor die media, voel sy dit moet kragtig tot voordeel van mense gebruik word. “Die media kan baie voordelig wees en bewusmaking oor sensitiewe kwessies uitlig, maar dit het ongelukkig ook die mag om lewens te verwoes. Ons almal lees graag berugte hofsake en die nuutste skandale, maar ons vergeet maklik die seer harte wat agter die storie sit.”

Haar geloof is wat haar staande gehou het en sy het vasgehou aan Psalm 23 en Jeremia 29. “My man se rustigheid en nugter uitkyk op die lewe is daagliks my redding. Ek is só dankbaar vir sy onvoorwaardelike liefde, die manier hoe hy my laat vergeet van my irrasionele vrese en hoe hy elke stukkie teëspoed met ’n glimlag hanteer.”

Vir ander wat deur dieselfde tipe uitdaging gaan, wil sy sê: “Geen trooswoorde sal die hartseer, woede en onsekerheid wegvat nie. Moet nooit jouself kwalik neem en wonder of dinge anders sou uitdraai as jy op ’n ander manier opgetree het nie. Moenie skaam wees oor dit wat in jou lewe aangaan of bang wees vir ander se oordeel en opinies nie – die ‘skandale’ definieer jou nie.”

Laura Wolvaardt teken meeste punte sover by ODI aan vir Proteas

Vandag is Wêreldkunsdag

Kan jy die naam van Bernice se volgende enkelsnit raai?

Man van Kroonstad sedert fratsvloede vermis

Boulders Beach tweede beste strand ter wêreld

Man verdrink op Saldanhabaai

Dink mooi voordat jy ’n onderwyser word

Christine van OME! deel verlowingsvideo

Voetgangers sterf toe voertuig in hulle inploeg

KYK: Dirk van der Westhuizen se hartroerende besoek aan kankerpasiënt

AfriForum sal help met eerste dagvaardiging vir uitstaande e-tolgelde