‘n Rooi Volkswagen Polo het Dinsdagaand omstreeks 18:40 op die Johannesburgpad by Moghul Park voor ’n taxi vol kerkgangers ingedraai.
“Die taxi was nie in sig nie”
Volgens konst. Thuntsha wou die bestuurder van die Volkwagen ’n U-draai maak. Die bestuurder van die Volkswagen Polo, wat verkies om anoniem te bly, beweer hy het nie die taxi sien aankom nie. “Toe ek in my spieëltjies kyk, was die taxi nie in sig nie. As ek hom gesien het, sou ek nie omgedraai het nie,” sê hy.
Die taxibestuurder, wat ook verkies om anoniem te bly, sê hulle kom oorspronklik van Pampierstad en was op pad na ’n begrafnis om een van hul “broers” te begrawe voor die ongeluk gebeur het. “Ons het langs mekaar gery vanaf die vorige robot, so daar is geen manier dat hy my nie kon sien aankom nie. My ligte was aan en ek was direk langs hom toe hy voor my ingedraai het,” verduidelik die taxibestuurder.
Eienaar van motor sit aan passasierskant
Die eienaar van die Volkswagen Polo het nie self die motor bestuur nie en het tydens die ongeluk aan die passasierskant gesit.
Geen ernstige beserings is opgedoen tydens die ongeluk nie en geen van die insittendes in die taxi of Volkswagen wou hospitaal toe gaan of deur ER24 ondersoek word nie. “Ek wil net kerk toe gaan,” het een dame verduidelik toe sy gevra word hoekom sy nie ondersoek wil word nie.

