Elna-Mari Abbott (29), wie se lyk Vrydagoggend op ‘n treinspoor in Nambië gevind is, het dreigende boodskappe van ‘n onbekende man op haar selfoon gekry.
‘n Treinkondukteur het op Abbott se lyk afgekom. Haar motor is later in die gebied Ausspannplatz in ‘n parkeerarea gevind, slegs 2 km van waar haar lyk gekry is.
‘n Namibiese koerant, Die Informante, het berig ‘n voorlopige ondersoek het bepaal Abbott het haar motorsleutel by die ontvangs van Merensky Towers ingehandig. Sy het na bewering vir die ontvangsdame gesê ‘n man van Suid-Afrika gaan die motor later kom haal.
Nadat die polisie die kar deursoek het, het hulle verskeie persoonlike besittings soos haar selfoon, drie sakke met klere en nagklere, boeke en grimering in haar motor gevind.
Familielede van die oorledene weier om te glo dat Abbott haar eie lewe, soos die ondersoekbeamptes spekuleer, geneem het. “Ons het ook gedink sy het haar eie lewe geneem na haar liggaam gevind is, maar nou het die dreigende boodskappe op haar foon aan die lig gekom,” het familielede aan Die Informante gesê.
Nog ‘n Namibiese koerant, Die Republikein, het berig daar is ‘n Engelse en ‘m Afrikaanse brief in Abbott se motor gevind. In die briewe is kontakbesonderhede van ‘n familielid, by wie die persoon wat haar motor vind, die motorsleutel kan kry.
Abbott is die niggie van die sangeres, Elizma Theron.