“Ons harte is stukkend,” sê Elzane Abbott (28), jonger suster van die onthoofde vrou, Elna-Marie Abbott (29) aan FiND iT.
Nadat Elna-Marie op 27 Maart 21:30 as vermis aangemeld is, is sy twee dae later op 29 Maart in die suidelike nywerheidsgebied van Windhoek in Namibië naby ‘n treinspoor dood gekry. Sy is onthoof.
Die Namibiese polisie het aan die familie bevestig die ondersoek na Elna-Marie se dood is afgehandel. “Volgens die polisie het my suster selfdood gepleeg. Die hoofinspekteur op die saak het baie moeite gedoen en ek glo hy het alle leidrade gevolg,” sê Elzane.
“’n Mens wil dit nie glo nie, maar mens wil ook nie glo dat iemand haar op so ‘n wrede manier vermoor het nie. Op die ou einde, watse een is beter om te verwerk,?” sê-vra Elzane.
“Ek wil nie glo dat my sus haarself so aan ons sou nalaat nie. Maar ek wil my ook nie indink deur watse vrees sy moes gegaan het as sy vermoor is nie.”
Elzane sê dat hulle geen ander keuse het as om berusting te kry dat dit selfdood was nie.
So sal ons haar onthou
Op die vraag wat haar sussie se mooiste eienskap was en wat sy altyd van haar sussie gaan onthou, bly Elzane ‘n oomblik stil. “Sjoe, daar is soveel goed van haar wat mooi was! As ek iets moet uitsonder, sal dit seker haar helpende hand wees. Of dit nou ‘n honger kind langs die pad was, of om ‘n vriendin by te staan met ‘n luisterende oor, sy was net altyd daar vir almal.”
Elzane vertel dat sy en haar neef net gister gepraat het oor Elna-Marie se mooi glimlag. “Sy’t altyd gelag. Kyk, ek weet God maak nie foute nie, maar sy het so baie blonde oomblikke gehad, sy moes blond gebore gewees het!”
Gevaartekens
Volgens Elzane het hulle as familie geen gevaartekens gesien of enigiets vermoed voor Elna-Marie se selfdood nie. “Sy’t geen tekens gewys nie; inteendeel het sy altyd alles met my gedeel.”
Nadat die media berig het oor dreigboodskappe op Elna-Marie se foon het Elzane dit duidelik gemaak dat dit onwaar is. “Hoe of waar die media daaraan gekom het, weet ons nie. Die inspekteur het niks op haar foon gekry soos daar gesê is nie.”
Wie was Elna-Marie?
“My sussie was ‘n geliefde mens. Ek dink daar was miskien net ‘n handjievol mense met wie sy nie oor die weg gekom het nie. Almal het haar gelove.”
Elna-Marie was die tipe mens wat jy in ‘n bos kon aflaai en sy sou kon oorleef. “En sy sou dit nog geniet het ook! So ook kon jy haar na ‘n kasteel vat en sy sou tuis wees daar. Sy was soos ‘n sonneblom, sy het altyd gestraal!”
Elzane vertel dat haar sussie lekker kon opgaar en nooit iets weggegooi het nie. “ Griet, ek dink sy’t nou nog haar love letters van skool! Daai ene het ‘n willetjie van haar eie gehad, hoor!”
Elna-Marie wat hardwerkend en 90% ‘n perfeksionis. Sy was mal oor kinders en sou ‘n fantastiese mamma gewees het. Maar haar mooiste eienskap van alles – sy het ‘n hart van goud gehad. Sy was goud!”
Die familie kan nog nie bevestig wanneer Elna-Marie se roudiens gaan wees nie. “Ons wag om te hoor wanneer my boetie, Charles Abbott (30), se paspoort sal reg wees, hy is tans in Suid-Afrika.”