Roydon Olckers (17), wat tragiese oorlede is nadat ’n loopbrug op 1 Februarie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark inmekaargestort het, se ma, Sharlene Olckers, het ter herdenking van haar seun namens hom ‘n wedloop gehardloop.
Roydon is een van die vier kinders wat gesterf het tydens die tragedie waar 22 leerlinge ook ernstige beserings opgedoen.
Vrydag is dit al drie weke sedert Marli Currie (14) en Jandre Steyn (13) oorlede is. Marnus Nagel het twee dae na die tragedie aan sy beserings beswyk.
Hoërskool Driehoek was Woensdag een van 16 skole wat deelgeneem het aan ‘n super 16 interskole-atletiekbyeenkoms by Herman Immelman-stadion in Germiston.
Voor die atletiekbyeenkoms is daar ’n brief voorgelees wat Sharlene spesiaal aan haar seun geskryf het:
“My liefste Roydon. Vandag hardloop ek jou laaste wedloop.”
Ondersteuners, leerders, ouers en onderwysers het almal opgestaan en hande geklap terwyl Sharlene, met Roydon se atletiekklere, om die baan gehardloop het.
Roydon was ’n kranige atleet wat altyd aan die 1500m en die 3000m deelgeneem het.