‘n Skare mense met plakkate, geklee in blou, het vanaf die hospitaal in Du Toitspanstraat na die gebou van die ministerie van gesondheid in Memorialstraat gestap.
Down with Fufe, Stop korrupsie en Beter gesondheid was van die slagspreuke wat by die optog verskyn het.
Luidens Andrew Louw, DA-premierskandidaat van die Noord-Kaap, is die LUR van gesondheid, Fufe Makatong, se naam van die ANC se lys by die IEC verwyder as gevolg van ’n klag van diefstal teen haar. Louw vra: “Hoekom kan hulle nie Makatong as LUR verwyder wanneer die ANC haar naam so maklik van hulle lys afgehaal het nie?”
Voorts sê hy: “Die ANC stel dalk nie belang om ’n dief as die provinsiale tesourier aan te hou nie. Maar ons is wel bekommerd om ’n dief onbeperkte toegang tot die tjekboek van die gesondheidsdepartement van die Noord-Kaap te gee.”
“Daar is nog vier weke oor vir politieke administrasie en dit is genoeg tyd om te plunder. Makatong moet gaan voor sy haar eie koffers vul. Na 8 Mei sal sy nie verder ’n staatsondersteunde salaris ontvang nie,” verduidelik Louw.
Wag nog vir antwoorde oor Kimberley-hospitaal
Voorts sê hy: “Ek en LP John Steenhuisen wag nou vir meer as twee weke vir skriftelike terugvoering oor die gereedheidstoestand van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal nadat hulle geweier het dat ons die kragopwekkers inspekteer.”
Kragopwekkers buite werking die rede vir stopsit van inspeksie
“Dit word vermoed die inspeksie is stopgesit omdat van die kragopwekkers nie aangeskakel het tydens fase-4 beurtkrag nie. Gevolglik was die kraam- en chirurgie-afdelings sonder elektrisiteit. Waarskynlik wil sy ons in die donker hou oor die swak toetstand van infrastruktuur by die hospitaal,” sê Louw.